Skip to main content

Donder-deurbrake by Oscars

Sonnette Lombaard

Hollywood is nie verniet die hoofstad van drama nie, want op ‘n geskiedkundige aand waartydens vanjaar se Oscar-beeldjies al die regte PC-geluide luidkeels gemaak het, het een onbeplande en dramatiese vuishou, die glanskollig gesteel.

Dit gons steeds nadat Will Smith, kort voor hy as beste akteur bekroon is, gisteraand (vroegoggend SA tyd) gesorg het vir die “liederlikste oomblik” nog op die vermaakmekka se jaarlike spog-toekenningsaand. Dit te midde van ‘n belangrike aand waartydens Hollywood na nog ‘n “heljaar” weens die pandemie en al sterker toettrede van inteken-stroomdiensflieks met sy status as politiek-korrekte voorbok in ‘n snel-veranderde samelewing sou spog.

Smith het verhoog toe gestorm en vanjaar se aanbieder, komediant Chris Rock, met ‘n vuishou vol in die gesig getref en hom daarna vanuit sy stoel verder hardop gevloek en geskel. Als ten aanskoue en aanhore van die geskokte glansgehoor en miljoene kykers wêreldwyd wat die 94ste Oscar-toekennings in Los Angeles lewendig gevolg het.

Smith se woede-uitbarsting was in reaksie nadat Rock vanaf die verhoog grappenderwys sy vrou, Jada Pinkett-Smith, met G.I. Jane vergelyk het. Die aktrise is tans kaalkop weens haar stryd teen die haarverlies-siekte, alopecia areata. Die LA Polisie het bevestig dat die voorval ondersoek word, hoewel Rock intussen gesê het hy gaan nie ‘n klagte lê nie.

Vermaak se bloubloed-gaste, oudergewoonte uitgevat in hul blinkste ontwerperskeppings, het skaars van skok herstel voor Smith weer verhoog toe is – dié keer om sy goue beeld as beste akteur vir King Richard te ontvang. Hy vertolk daarin die rol van Richard Williams, wat sy tennisdogters, Venus en Serena, tot sporthoogtes sou voer.

In sy wentoespraak, het ‘n betraande en hoogs-emosionele Smith sy optrede verdedig deur te sê hy het sy familie beskerm en sal nie toelaat dat hulle in die openbaar sleggesê word nie. “Love makes you do crazy things”, het die Amerikaner grensend gebieg wyl hy sy eerste Oscar ontvang het. Hy weier om vir Rock verskoning te vra.

Desondanks dié onverwagse gebeure, sal vanjaar se Oscars steeds deurgaan as ‘n deurbraakjaar met beeldjiewenners in ‘n paar kernkategorieë in flieks waar die draaiboek en/of rolverdeling op aktuele en/of omstrede kwessies fokus.

Die dowe-gemeenskap juig nadat die klein, onbekende juweelfliek en buiteperd CODA die gesogte Oscar as beste rolprent voor sterk kompetisie weggeraap het. Boonop is een van die akteurs Troy Kotsur as beste byspeler bekroon en het die fliek ook vir beste aangepaste draaiboek gewen. Die fliek wat op Apple TV uitgereik is, kon nog deur min fliekgangers gesien word. Kotsur is die tweede dowe akteur om ‘n Oscar te wen naas Marlee Matlin in Children of a Lesser God (1986).

Vreugdevure brand ook onder die Latino- en transgemeenskap nadat Ariana DeBose as beste vroulike byspeler in Steven Spielberg se doekverwerking van die tydlose musiekblyspel West Side Story aangewys is. DeBose is die eerste openlike queer-aktrise en van kleur wat voortaan met ‘n Oscar spog.

Die Kiwi-regisseur Jane Campion het eweneens geskiedenis gemaak met haar Oscar-beeld as beste regisseur vir The Power of the Dog, wat deur Netflix uitgereik is. Sy is ook die eerste vrou wat twee keer as beste regisseur meegeding het, na haar benoeming vir The Piano (1994). Dis boonop die tweede jaar agtereenvolgens wat ‘n vrou die gesogte prys as beste regisseur wen na Chloé Zhao se Nomadland laas jaar.

Al vele maal vir ‘n Oscar benoem, kon Yank-aktrise Jessica Chastain ook eindelik ‘n Oscar huistoe vat vir haar oortuigende spel as Tammy Faye in The Eyes of Tammy Faye. Dit het ook welverdiend vir beste grimering en hare gewen.

Die Britse reus sir Kenneth Branagh se veelsydige talente was vanjaar vir sy semi-outobiografiese drama-komedie Belfast in verskeie kategorieë benoem maar kon net ‘n Oscar inpalm vir beste oorspronklike draaiboek. In die jaar wat Daniel Craig as 007 gegroet het, het die fliek een Oscar gewen: Billie Eilish en haar broer Finneas se No Time to Die uit die gelyknamige Bondfiek is as beste oorspronklike lied aangewys. Dit is die derde keer dat ‘n Bond-temalied met ‘n Oscar bekroon word.

Die groot wenner van die aand was die sci-fi avontuur Dune wat met ses goue beeldjies weggestap het vir o.a beste produksie-ontwerp, kinematografie, klank, oorspronklike klankbaan, visuele effekte en redigering.

Die Japannese inskrywing Drive My Car is as beste buitelandse rolprent bekroon, wyl Summer of Soul oor die 1969 Harlem-kultuurfees as beste dokumentêr aangewys is. Die kinderfliek Encanto het as beste animasiefliek geseëvier en Cruella het vir beste kostuumontewerp gewen.

Leave a Reply

error: Content is protected !!