Skip to main content

ISAAC CLOETE

‘n Splinternuwe gesondheidsentrum is die week ook deur ‘n watertekort bygekom.

Die hospitaal op Port Nolloth is steeds nie toeganklik vir die publiek nie weens ‘n waterprobleem nie, volgens Gavin Julie, die streekstesourier van NEHAWU.

Hy het vertel dat die gesondheidsfasiliteit reeds vanaf laas Vrydag sonder water sit. En dit was Maandag half toegemaak vir die publiek.

Hy het gesê: “Skoonmakers werk nie naweke nie, dus was die fasiliteit nie skoongemaak nie. Ook kon die beddegoed van pasiënte nie die week gewas word nie.”

Volgens Julie is dit die eerste keer dat so iets hier gebeur omdat die watervlakke van die fasiliteit se opgaardam glo te laag is. Die dam moet eers aangevul word sodat die pomp in staat is om die water na die fasiliteit se stelsels te voer.

Dit lyk vir hom ook asof die fasiliteit nie ‘n plan B het om sulke krisisse die hoof te bied nie, sou dit weer gebeur. Hierdeur word die plaaslike gemeenskap erg benadeel, voer hy aan.

Suster Denise Langeveldt neem waar as bestuurder hier. Volgens haar is die fasiliteit nie ‘n hospitaal nie, maar ‘n gemeenskapgesondheidsentrum(GGS) wat byvoorbeeld net 7 pasiënte per keer kan opneem. Sy het vertel dat hulle wel pasiënte kan was as gevolg van planne wat gemaak was.

“Ons is nie heeltemal gesluit nie, maar ons kan nie meer nuwe pasiënte opneem nie. Ons hanteer nou slegs noodgevalle. As hulle te siek is, stuur ons hulle na die  Springbok hospital, 150km verder.”

Volgens die Richtersveld munisipaliteit op Port Nolloth was daar Maandag ‘n kragonderbreking by die Alexanderbaai substasie. Port Nolloth kry krag vanaf die substasie.

“Dit het veroorsaak dat die pompstasie nie water na Port Nolloth kon pomp nie. Ons het egter trokke ingespan om water na onder andere die gesondheidsentrum te kry. Intussen vat dit tyd dat die opgaardamme en pype vol word.”

Volgens die munisipaliteit behoort die watervloei vanaf gister weer normaal te wees na alle plekke op die dorp, as niks skeefloop nie.

* Die sentrum was teen ‘n beraamde koste van R150milj opgerig om gehaltediens aan die Richtersvelders te verskaf.

Leave a Reply