Skip to main content

Hel los in Engelstad

SONNETTE LOMBAARD

Ambulance

Aksie-misdaadriller 

Met Jake Gyllenhaal, Yahya Abdul-Mateen II, Eiza González, Garret Dillahunt en Keir O’Donnell.

Vertaal uit Spaans beteken Los Angeles “die engele”. Dit moes afsmeer want die Stad van Engele is inderdaad die plek waar rein drome waar word. Of nie, want omring met vele verderwe, kry siele gou ‘n prys. Bly jy aan die verkeerde kant van Lalaland se spoor, moet jy kreatief kan oorleef.

Vra vir twee LA-boorlinge – die aangenome broers Will en Danny Sharp. Met ‘n berugte pa in onderwȇreldkringe, smee hulle kleintyd ‘n onverskrokke broederband. Tussen tyd en gebeure torring dit los … tot die duiwel kom draai. Will (Yahya Abdul-Mateen) is ‘n vereerde oorlogsheld wat nou tuis as jong pa bontstaan. Hy moet blitsig planne beraam om vroulief Amy se lewensbelangrike operasie te befonds. Teen sy beter wete, nader hy Danny (Jake Gyllenhaal) vir hulp. Danny Boy is ‘n mooi man met sagte oë en seepgladde skurkstreke … ‘n beroepskrimineel met ‘n charismatiese donker spoor onder LA se helder liggies.

Danny oorreed Will om teen vergoeding by sy volgende reuse-bankroof betrokke te raak. Dinge loop skeef en die broers moet vlug. Toe ongewone wegkomwiele opduik, kaap hulle ‘n rooilig-ambulans, haastig op pad na die hospitaal met ‘n gewonde polisieman en pligsgetroue nooddienswerker…

Veteraan-regisseur en vervaardiger Michael Bay draai nie doekies om oor hoe en vir wie hy sy peperduur aksieflieks maak nie. Hy systap resensente se gifpyle oor sy oormaat fokus op geweld met spesiale effekte en bloed wat skerms vol spat en weier om sg. denkende flieks te maak. Bay lag laaste want fliekvlooie slurp sy aksie-avonture met reuse-begrotings op, wat sy vermaakvisie se verstaan van die tydsgees bevestig. Met Armageddon (1998), Pearl Harbor (2001) en die Transformers-reeks (2007 -) is hy een van die suksesvolste fliekdirigente.

Bay se meesterkuns van swiepende kamerakuns, teen spoed en lense wat teksture se lae in die fynste denkbare detail aftrek, is wyer in aanvraag. Hy is die man agter die Aboe Dhabi-advertensie, ook in sy kenmerkende styl geskiet. Boonop wis hy wat in sy aard is en waar sy speelgrond is. LA is ook sy geboorteplek. Die meetsnoere het reg geval met sy aanneem-ouers en hy dien reeds as intern tydens tiener-jare op George Lucas se fliekstelle.

Met Ambulance vuur hy op al sy silinders en meer. ‘n Oormaak van die oorspronklike Deense Ambulancen (2005), speel dit op Bay, ook bekend vir patriotisme in sy flieks, se tuisstoep af. Die draaiboek eis dat hy sy voorkeurgebruik van ras-stereotipering as soort komiese afleiding die keer meer eietyds en lewensgetrou gebruik. Bay deins nie terug nie en sy parate kameras ruk die deksel van die kulturele kookpot wat LA is, manjifiek af. Dit ontbloot die megastad se etniese – en oorleefkontoere soos die storie ontvou en aandoen by van die vermaakmekka se blinker omgewings, tot agtergeblewe-krotte van die Hispanic-kwartiere.

Bay se skitterspan voor die kamera is kundig gekies en speel stewig onder begeesterde aanvoering van Gyllenhaal en Abdul-Mateen, wat hul hoofkarakters robuust en volrond weergee. Gyllenhaal het lankal sy gay-held in Brokeback Mountain agtergelaat en is deesdae een van Hollywood se winsgewende sterre met ‘n CV wat beïndruk. Abdul-Mateen is op dieselfde trajek en sit sy goeie werk in Candyman en in The Matrix Resurrections voort.

Hul kollegas ondersteun knap. Die mooi Mexikaanse aktrise Eiza González (Godzilla vs Kong, Fast & Furious: Hobbs & Shaw) tref as die sensitiewe maar koelkop ambulanswerker Cam Thompson wat as gyselaar op hoë spoed kalm haar nooddienstaak verrig. Ditto Garret Dillahunt as kapt. Monroe, die eksentrieke en uitgeslape hoof van die stad se spesiale polisie-eenheid. Benewens die broers aankeer, moet hy ook die FBI-agent Anson Clark (Aussie Keir O’Donnell) wat op sy turf en in sy slaai kom krap, in toom hou.

Sien jy kans vir ‘n oktaanontploffing van langer as twee ure wat wakkerbly waarborg, kan jy vasgordel vir dié skrapnel-skouspel. Dis vashou, vasgryp en koes vir vonke wat in jou gesig spat, maar vir eens snoer Michael Bay kritici se monde en wys hy kȧn meer as groot geraas maak. Sy grootskaalse rusverstoring met punch is daar, maar hier klop dit met ‘n warm hart enduit. Jy is in vir ‘n rillerrit soos min … in engelkontrei.

 

Leave a Reply