Skip to main content

Die Kommissaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), Teboho Maruping, het ‘n streng waarskuwing gerig aan diegene wat probeer om die WVF te bedrieg en bygevoeg dat oortreders gearresteer en gestraf sal word vir enige onwettige optrede.

Dit volg op die onlangse skuldigbevinding van ‘n egpaar wat die WVF se COVID-19 Tydelike Werkgewer-Werknemer Verligtingskema (COVID-19 TERS) uit meer as R10 miljoen gekul het.

Die direkteure van Denmeng Trading, Moroko Moremi (37), en sy vrou, Treasure Moremi (34), is onlangs deur die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof aan bedrog skuldig bevind nadat hulle aansoek gedoen het om COVID-19 TERS vir 553 werkers toe hulle net 22 in diens gehad het.

“Gesamentlike pogings deur die WVF se ondersoekers, wetstoepassingsagentskappe by die Fusion Centre, soos die HAWKS, Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) het gelei tot die egpaar se suksesvolle arrestasie en skuldigbevinding,” het die departement in ’n verklaring gesê.

Die egpaar sal na verwagting op 17 Mei 2022 gevonnis word.

Maruping het gesê hy hoop die jongste skuldigbevindings en arrestasies stuur ‘n sterk boodskap aan ander voornemende bedrieërs: dat die lang arm van die gereg hulle altyd sal inhaal.

“Diegene wat hulself gehelp het aan fondse wat vir werkers geoormerk is tydens die inperking, moet altyd onthou dat die wet vir hulle kom en hulle sal geen rus kry nie. Ons sal nie duld dat werkersvoordele deur gewetenlose individue gesteel word nie. Alle bedrieërs moet kennis neem en ons hoop meer verdagtes word gearresteer en reguit tronk toe gestuur.

“Deur saam met wetstoepassingsagentskappe te werk, sal ons elke leidraad volg wat dui op vermoedelike bedrog. Ons bedank ook die fluitjieblasers dat hulle waaksaam is oor die misbruik van COVID-19 TERS-fondse,” het Maruping gesê.

Tot dusver was daar vier skuldigbevindings van individue wat die WVF van COVID-19 TERS-fondse bedrieg het, en meer word verwag aangesien 15 sake na die Spesiale Ondersoek-Eenheid verwys is vir verdere ondersoeke.

Leave a Reply

error: Content is protected !!