Skip to main content

ISAAC CLOETE  

Klein gemeenskappies is moerig omdat hul munisipaliteit baie geld mors op onbenullige hofsake in plaas van dienslewering.

Volgens Benjamin Kriel van die Kharkams-gemeenskapskomitee sukkel hulle al baie lank om volhoubare en drinkbare water te kry. Die water moet voorsien word deur die Kamiesberg munisipaliteit (KBM) op Garies in Namakwaland.

Op 9 Maart is ‘n vergadering gehou met die speaker, Melvin Cloete, en die burgemeester, Susarah Nero. Hier was verskeie voorstelle gemaak, onder andere om hulp van buite te kry.

Kriel het vertel: “Die voorstelle het behels dat bekwame lede van die Rustenburg-gemeenskap sou kom help om pype reg te maak en die pompe te herstel.”

Volgens hom wag die leier van die groep, Freddie van der Linde, net vir die groen lig vanaf die KBM. Daar was sover nog geen terugvoering van die munisipaliteit  nie.

Intussen word boorgatwater met riooltrokke van die departement van openbare werke versprei. Die water is waarskynlik nie getoets nie en het ‘n slegte reuk. Daar was ‘n beroep op die departement van omgewingsake gedoen om dit te toets, omdat van die inwoners al siek geword het.

Dit het verder aan die lig gekom dat die sogenaamde bloumeterwaterstelsel van die munisipaliteit foutief is. Inwoners kla dat die meter aanhou loop sonder dat enige krane oopgedraai is.

Intussen het inwoners van Hondeklipbaai ook skerp te velde getrek teen die KBM weens swak dienslewering, veral oor die watertekorte.

Asof dit nie genoeg is nie, het Garies-inwoners ook intussen besluit om ‘n massa optog te reël vir 14 April. Daar gaan dit net so sleg, vertel inwoners. Volgens hulle is die strate van dié hoofdorp van die Kamiesberg-streek ook vol gate, loop die riool orals en is daar gereeld watertekorte.

Elshia McNeill is ‘n bekende gemeenskapsvrou hier en een van die organiseerders van die optog. Volgens haar word die ander 15 kleiner dorpies ook betrek.

“Die optog gaan oor al die gemeenskappe en is a-polities. Ons gaan griefskrifte oorhandig en dan kyk wat die munisipaliteit binne ‘n maand hieraan gaan doen.”

Volgens die KBM sukkel hulle om in Kharkams se aanvraag na waterbehoeftes te voorsien. Die waterbronne is te min en het dit niks met herstelwerk te doen nie, want daar is bekwame mense.

*Die KBM sit huidiglik met groot en duur hofsake. Een het betrekking op die dorpstigting van die Eureka-beweging van Adriaan Nieuwoudt. By die ander saak is die Koiingnaas belastingbetalersvereniging die respondent, juis oor swak dienslewering.

 

Leave a Reply