‘n Skriftelike uitspraak deur regter Brenda Neukircher in die Gautengse hooggeregshof het gesorg dat AfriForum ‘n dringende interdik kon bekom om ‘n R50 miljoen skenking aan Kuba te kniehalter.
Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, wou die geld, ‘n “kontantgeskenk in die konteks van wederkerigheid en historiese vriendskap” aan die eilandgemeenskap skenk.
“Nie een van die respondente kan enige skade ly as die R50 miljoen-skenking opgehou word terwyl die saak op volledige meriete bereg word nie,” het Neukircher gesê.
AfriForum het die uitspraak verwelkom aangesien hulle wil vasstel of die skenking ongrondwetlik en/of onwettig is.