Skip to main content

Ongeveer 3 000 spookwerknemers werk sedert 2020 permanent vir Passenger Rail Agency of South Africa (PRASA).

In ‘n inligtingsessie met media eergister het PRASA se nuwe direksie gesê dat dié spookwerknemers as permanente staflede op sy stelsel geregistreer is.

Die raadsvoorsitter, Leonard Ramatlakane, het gesê salarisse word betaal aan mense wat nie na vore kan tree en kan bewys dat hulle wel bestaan nie. Dit het aan die lig gekom nadat Operasie Ziveze, waartydens werknemers verplig is om hul kwalifikasies te toon, asook om saam met hul toesighouers of bestuurders teenwoordig te wees voordat hul salarisse betaal kan word, afgeskop het.

“’n Vaardigheids-oudit het aan die lig gebring dat slegs 14 000 werknemers (al is aan die direksie gesê die entiteit het 17 000) opgedaag het met die nodige kwalifikasies en hul indiensneming bevestig,” het Ramatlakane gesê.

Volgens ‘n steekproef wat PRASA met die departement van binnelandse sake gedoen het, is daar bewys dat van die werknemers nie eers Suid-Afrikaanse burgers is nie.

“Sommige mense het vals identiteitsdokumente gebruik om salarisse te kry en hul nasionaliteite kan nie geverifieer word nie,” sê Ramatlakane.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het ook aanbeveel dat PRASA teen 44 van hul amptenare, wat betrokke was by die toekenning van ‘n multi-miljard rand spoorkontrak aan Swifambo Rail wat té groot treine vir Suid-Afrika se spoorstelsel vervaardig het, moet optree.

Volgens Ramatlakane het 11 van die 44 amptenare bedank voordat die SOE-verslag aan PRASA gelewer is.

“Hulle sal teregstaan op aanklagte van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en oortreding van die voorsieningskettingbestuursprosedure. Die direksie is ernstig daaroor om korrupsie uit te roei,” het Ramatlakane gesê.

PRASA se voormalige hoof van ingenieurswese, Daniel Mthimkhulu, is reeds skuldig bevind op drie aanklagte van bedrog in die Johannesburgse Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Palm Ridge.

“Mthimkhulu staan tereg op nege aanklagte van bedrog omdat hy na bewering sy kwalifikasies aan PRASA wanvoorgestel het, onder meer beweer het dat hy ‘n meestersgraad aan die Universiteit van Witwatersrand verwerf het, sowel as ‘n doktorsgraad in Ingenieursbestuur van die Technische Universitat Munchen (München Tegniese Universiteit) in Duitsland,” het Phindi Mjonondwane, die NVG-woordvoerder, gesê.

Leave a Reply