Beamptes wat die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe kontrolleer het ‘n gesamentlike operasie uitgevoer om onwettige immigrante en smokkelaars vas te vat.
Mense is verlede Vrydag aan beide kante van die grens in hegtenis geneem. Baie van hulle was in besit van vals reisdokumente en ander het net eenvoudig die grens sonder enige dokumentasie op afgeleë gebiede oorgesteek.
Trustworthy Manatsir, die waarnemende hoof van immigrasiedienste by Beitbrug (aan die Zimbabwe kant), het gesê die operasie se lede is mense wat afkomstig is uit veiligheidsposte van Zimbabwe en Suid-Afrika.
“Dit was ‘n baie suksesvolle operasie en ons het ‘n aantal mense gearresteer vir misdrywe wat verband hou met onwettige migrasie en die onwettige vervoer van goedere,” het hy gesê.
“Ons sal egter syfers in ’n later stadium bekend maak aangesien ons steeds besig is om die sake te verwerk”.
Volgens Manatsir moet reisigers, buiten hulle eie geldige paspoorte, ingeënt wees teen Covid-19 en ook ‘n Covid-19-klaringsertifikaat (PCR-getoets) by hulle dra.