Transdorings pootjie vroue
Ses dekades nadat Women’s Lib se vuurpyl om vroueberegtiging gelanseer is, plaas die transera vroueregte opnuut in ‘n krisis. Die verblydende nuus is evas se vordering op vele gebiede, soos die Oekraïne-oorlog bewys, skryf Sonnette Lombaard.
Met die wȇreld op hete kole oor Moeder Rusland se vergrype, word Internasionale Vrouedag vandeesmaand gevier. Die durende Oekraïne-krisis weerspieël ook die donker wolke wat oor vroue se gelykheidstryd hang, want dis deesdae vrou teen vrou in eietydse spervure oor geslagsgelykheid.
Candace Owens, die konserwatiewe politieke kommentator in Yankland, spoeg vandeesweek vuur nadat dr. Rachel Levine, die adjunk-minister van gesondheid in die VSA, benoem is as kandidaat vir Vrou van die Jaar 2022. Levine (64) is die eerste openlike transgender in ‘n senior federale amp.
“Ek weet nie meer wat ‘n vrou is nie,” bieg Owens. “Met feminisme het ons ruimte probeer skep vir vroue, weg van mans. Ons het vir vroue-sport geveg. Nou kan enigeen ‘n pruik opsit, hulself as vrou verklaar en onder rekords maai.”
Owens verwys na die Yankswemmer Lia Thomas, wat sedert sy van man na vrou verander het, nasionale swemrekords laat spat. Dis olie op die warm debat oor regverdigheid geld wanneer transvroue teen ander vroue in sport meeding. Ons eie transgender-steratleet Caster Semenya is onder die loep hieroor.
Owens is haas nie al verwarde vrou nie. Ons voorste kultuurkenner, prof. Amanda du Preez-Goosen van Pretoria, sȇ ook sy is ‘n verloopte feminis. “Ek was ’n feminis maar binne hedendaagse diskoerse het die konsep ‘vrou’ geen bepaalde inhoud of vorm meer nie, en kan ek myself nie meer tot dié strewe verbind nie.”
Volgens haar het sy teen 57 “soos meeste ouer vroue onsigbaar geword”. Sy wys ook daarop dat vroue hulle eie vyand bly. “Daar is dikwels meer diskriminasie onder vroue self as tussen geslagte.” En gee toe diskriminasie bly ‘n komplekse saak met nuanses en verskillende gesigte. “Gelyke beregtiging voor die wet is ‘n kernaspirasie, maar waaraan word gelykheid gemeet? Wil ek ‘gelyk’ aan ‘n man wees? Nee, want ek is anders. Verlang ek respek en waardering vir my andersheid? Beslis.”
Du Preez-Goosen voorspel in ‘n snelveranderde wȇreld sal “gelyke andersheid” na vore tree. Sy stem saam met Owens dat vroue se gelykheidstryd deur die toetrede van nuwe geslagsidentiteite gekaap word.
Voorts meen sy sport benodig ‘n indeling volgens ‘n “kontinuum van hormone” om die speelveld meer gelyk te maak. Soos kategorieë vir deelnemers met die meeste testosteroon tot dié met die meeste estrogeen. Die deelnemers met die hoër estrogeenvlakke sal mekaar aandurf en ditto vir dié met die hoër testosteroonvlakke. “Dit sal ‘n meer regverdige bedeling wees, waar mans teen mans deelneem en vroue teen vroue, wyl tussengeslagte mekaar kan pak.”
Du Preez-Goosen erken die vordering met regverdigheid vir vroue, al verloop die lang stryd nie rimpelloos nie. Dit weerklink juis nou, want wyl die mensdom 24/7-beelde van die eskalerende oorlog in Oekraïne volg, word iets ongekend en positief oor vroue se vordering terselfdertyd kragtig weergegee.
Een van die vaandeldraervroue in internasionale politiek is ‘n boorling van Kiev, die hoofstad van Oekraïne. Golda Meir was van 1969-1974 die eerste vroulike eerste minister van Israel en aan bewind tydens die Yom Kippur Oorlog in 1973.
Ander voorlopers wat tydens oorloë of onstuimige tye hul merk gemaak het, sluit in Indië se Indira Ghandi en die Nobelpryswenner Aung San Suu Kyi, die eerste minister van Myanmar van 2016-2021, en natuurlik Engeland se ystervrou Margaret Thatcher, wat haar land se langsdienende eerste minister in die 20ste eeu is, en die Britte in die Falkland-oorlog teen Argentinië in die 1980s gelei het.
Dié dapper evas was eens enkele gesigte in ‘n see met manlike heersers. In oorloë en ander internasionale krisisse het vroue tradisioneelweg stiller gefigureer, in kernrolle tuis en/of agter-die-skerms. Evas was skerp-spioene in oorloë, en vroulike vegvlieëniers het in WOII voorrade oor die Atlantiese Oseaan gevlieg, wyl die Engelse Land Girls gesorg het dat die Britte se voedselproduksie voortrol.
Agt dekades daarna is vroue nou wȇreldwyd in leiersposisies en voorbokke tans in belangrike besluitnemingsprosesse oor optrede en sanksies teen Rusland se militante vergrype. Ursula von der Leyen, die president van die Europese Kommissie, en Roberta Metsola Tedesco Triccas, die EU-president, boer op ons kleinkassies. Ook Kamala Harris, die vise-president van die VSA, Jacinda Ardern, die premier van Nieu-Seeland, Nicola Sturgeon, die Skotse eerste minister, en Liz Truss, die Britse Minister van Buitelandse Sake, is bekende nuusgesigte.
Ondanks dié vooruitgang en die opkoms van bewegings soos MeToo en voortdurende nuusgebeure rondom dit, kry vroue se gelykheidstryd uit onverwagte oorde opdraande. Die koms van die transera en breër stryd om geslagsgelykheid (LBGT+) eis nou die kollig.
Volgens ongelukkige feministe is vroueregte nou ondergeskik binne ‘n politiek-korrekte samelewing waar nuwe geslagsgroepe voorrang geniet. Agendas van raadsale en wetskamers tot in die vermaakarena na sportvelde word oorheers deur groeiende eise van die LBGT+-gemeenskappe.
Tradisionele feministe glo die akkommodering van nuwe geslagsgroepe stel vroueregte in die skadu én verdeel vroue meer as ooit. Hulle is openlik bekommerd oor die “vreesklimaat” uit nuwe geslagsoorde teen veral vroue wat nie met alles wat daaruit voortspruit, saamstem nie.
In die reuse-vermaakwêreld gons dit oor bekende evas se standpunte in die transdebat. JK Rowling, die skepper van die Harry Potter franchise, is in die geslag-spervuur omdat sy wetgewing steun wat ook mense en veral vroue sal beskerm wat steeds glo geslag word biologies bepaal. Rowling skop vas, ondanks fel kritiek uit trans- en ander liberale kringe, ook van die jong akteurs wat sy met haar topverkoperboeke en fliekweergawes ryk en beroemd gemaak het.
Vroeër het transvroue die bekroonde Kanadese skrywer/digter en uitgesproke feminis Margaret Atwood getakel oor haar openlike steun aan ‘n manlike kollega wat van seksuele misbruik aangekla was, maar vrygespreek is. In ‘n ope brief het Atwood gewonder of sy nou ‘n “slegte feminis” geword het, bloot oor haar eerlike opinie en keuse in ‘n omstrede saak.
Dat die baie nuwe geslagsrolspelers en vooruitgang vir transgeslagte dikwels kom ten koste van vroue se gelykheidstryd is gewis. Tans word meer as 200 skale reeds gebruik om geslag – tussen volkome heteroseksualitiet en volkome homoseksualiteit – te meet.
Die tameletjie word dus groter. Nes internasionale sportliggame dit nie veel langer kan systap nie, eis dit ook wye wetgewing met fyner etiese grenslyne vir groter gelykheid oraloor.
Die ware kuns van enige kunsvorm (pun intended) is om alle verskillende aktivis-eie-regte-sterk opinies vir hulle elkeen individueel ‘n genade spasie te gee, nes Sonnette hier reggekry het! Ons kyk films en reekse en ontwikkel empatie vir die “villians” as die storie-skrywer dit wil laat veroorsaak. Om so ‘n Goliat van ‘n onderwerp, so sagkens, maar insiggewend te verwoord, om ‘n tammeletjie van ‘n onderwerp te knie dat dit heerlike fudge word, dis meesterlik.
Die breë spektrum van wysheid, insig en algemene algemene kennis het my in verwondering. Ek het al gehoor iemand beskryf “Genius is seeing the invisible link” dis wat hierdie uitsonderlike artikel vir my laat voel het. Om te rond te spring tussen prominente feministe, van politieke leiers na kunstenaars, dis “genius”.
Met fantastiese joernalistiek soos hierdie, dwing dit besluitnemers om nie meer te dink aan reg of verkeerd nie, maar eerder in aanpasbaarheid en innovasie. Byna soos ‘n pokke inenting tipe van oplossing.
Margaret Atwood se byna “hardkoppige” uitkyk maak vir my sin. In Handmaid’s Tales het sy vir ons geskok met brutale waarheid as owerhede van godsdiens misbruik word. Haar sensitiewe gees vir reg of verkeerd, is vir my parallel met haar harde stem in die duisternis.
Artikels soos hierdie maak my trots, trots om ‘n vrou te wees, in nogsteeds ‘n man’s world, komende van iemand wat alweer frustrasies hierdie week ervaar het met motor onderhouding. Dit maak my trots om ‘n Afrikaanse meisie te wees, met tydsgenote en voorlopers soos hierdie.