Skip to main content

ISAAC CLOETE

“As dit gaan oor ‘n oog vir ‘n oog,  moet dit maar kom.”

So voel ‘n groep inwoners van die dorpie Steinkopf in Namakwaland, nou nadat geweld blykbaar kommerwekkende afmetings begin aanneem het.

Een van die gemeenskapsleiers het anoniem gesê dat hulle nou rêrig in vrees lewe. Dié week was daar weer met die gemeenskap en verskeie belanghebbende groepe beraadslag om die situasie te ontlont en op te los.

“Die gemeenskap oorweeg nou mob justice, want die polisie kan nie hul werk doen nie. Hulle het nie die kapasiteit daarvoor nie.”

Die vrees was gebore uit geweldadige aksies tussen twee strydende groepe: aan die een kant ‘n groep wat ’n smokkelaar steun; aan die ander kant is ‘n groep wat ‘n voormalige handlanger (butler) van die smokkelaar was.

Intussen is ‘n derde groep, die sogenaamde Laksmanne, gevorm wat alle vorms van geweld van die eerste twee groepe wil beveg.

Tans word daar ‘n boodskap van die Laksmanne onder die gemeenskap rondgestuur. Dit laat vrees verder onder die inwoners versprei.

Die boodskap lui: “Ons is al ‘n groep van 60. U is welkom om te join. U sal voorsien word van wapens soos sekels, skerpgemaakte tuinvurke, sambokke, of afgesaagde pikstele. Petrol is klaar voorsien, bring net jou houer vir jou bom. Acid is ook beskikbaar.”

Volgens Dawid Cloete van die Gemeenskapseiendomsvereniging  (CPA) het hulle ‘n gemeenskapsvergadering geroep waar versoek was dat geen geweld met geweld beveg moet word nie.

Ds Eddie Leeuw is een van die geestelikes op die dorp. Hy wou nie kommentaar lewer nie, omdat hy tans uitstedig is. Hy het wel gesê:

“My hart bloei vir Steinkopf. Ek bly biddend, want ek glo daar is krag in gebed. My God het nog altyd geantwoord op ons smekinge.”

Volgens die polisie-woordvoerder, kapt Olebogeng Tawana, hou die polisie in Steinkopf die situasie deurlopend dop. Hy het gesê: “Die afgelope Vrydag was die polisie met klopjagte hier besig om te soek na die beweerde bendes. Niemand het egter nog enige sake van intimidasie kom oopmaak nie.”

Gemeenskapslede het bevestig dat die POP’s en die K9-eenhede van Springbok die naweek na Steinkopf moes opruk om wet en orde te gaan handhaaf.

“Die dorp het gewemel van polisie-lede, soos in ‘n ‘oorlogsituasie’ gebeur,”  het hulle vertel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!