Skip to main content

 Fliek se evahart gloei

Sonnette Lombaard

Fireheart

Animasie-avontuur

Met stemme van Kenneth Branagh, Olivia Cooke en William Shatner.

Kan jy kies om enige plek in die wȇreld brandweerman te wees, sal New York waarskynlik loshande wen. Daar is iets aan die Groot Appel se vuurvegters en hul heroriese dade wat harte grensloos verwarm. Die grootdoek vang nog altyd dié nooddienswerkers se braafwees te midde van verwoestende vure glorieryk vas.

Sing jy saam in dié koor, is die nuwe animasiefliek Fireheart ‘n kaartjie werd. Boonop het dit gepas begin draai in Internasionale Vrouemaand, want dit brand ‘n sierkersie vir vroue se vooruitgang om ewe parate vuurvegters of wat ookal te mag wees.

Die storie voer jou terug na vervloeȅ dae in New York. Heupswaaiende vroue uitgedos in flapper-modes is uitbundige inkleurders van dié opskop-era, maar in die 1930s nog wetlik ingegordel om oral hul vrou te kan staan, ook vir ernstiger sake.

En dit wyl ‘n vrou se fyn speursin en sesde sintuig presies nou is wat die groot stad asap benodig want ‘n vreemde verskynsel saai vrees onder New York se inwoners. ‘n Geheimsinnige brandstigter begin ‘n brandspoor in die stad se kunsmekka Broadway. Teaters word in puin gelȇ wyl brandstryders in pers wolke op die dawerende note van grilmusiek verdwyn.

Dit noop burgemeester Jimmy Murray (stem van die tydlose en gewilde veteraan William Shatner) om gevierde brandweerman Shawn Nolan, wat reeds sy vuurslang opgehang het, terug te bring vir die ongekende krisis. Saam met ‘n klein kernspan brandstryders moet hy die amokmaker blitsig vind en stuit.

Net die kans waaroor Shawn se enigste dogter Georgia (Olivia Cooke se stem) van jongs-af wag. Die bekkige tiener begeer om haar pa se beroemde brandstewels vol te staan; al word vroue verbied om by die brandweerdiens aan te sluit. Dit stuit geensins Georgia se entoesiasme nie. Saam met haar ougat-brak oefen sy van kleintyd in die geheim op hul woonsteldak om reg te wees wanneer evas wel kan aansluit. En niks skort met haar verbeelding om behendig met haar “geslagsprobleem” plan te maak om eindelik haar droom te verwesenlik nie …

Die Brit sir Kenneth Branagh wat hier sy stem verleen aan rooikop-pa Shawn, is ‘n multi-bekroonde vermaakreus. Vanjaar is nog ‘n grote vir Branagh se veelsydige talente en kan eindelik Oscar-roem bring. Sy semi-outobiografiese drama-komedie Belfast, tans hier op die kringloop, is benoem as beste rolprent en vir beste oorspronklike draaiboek, wyl hy ook die goue beeldjie as beste regisseur kan opraap. Branagh hou nou die rekord van benoemings in sewe verskillende Oscar-kategorieȅ waarmee hy grotes soos Walt Disney en George Clooney verbygesteek het. Die Oscars word op 27 Maart in Los Angeles toegeken.

Fireheart word tereg opgedra aan New York se dapper brandweervroue. Hoewel ‘n slaaf, Molly Williams, reeds in 1815 deel van ‘n brandweerhuis in die stad was, is evas eers amptelik in 1982 toegelaat om aan te sluit. Dis waar dié animasiefliek se hart tydig en reg klop!

Die kragkombo van tekenprent-fliekkuns is juis dat dit gesinsvermaak bied, wat jonk en oud teiken en visueel kan opvoed oor universele kwessies wyl hulle vermaak word. Wat die afgelope paar dekades gesorg het vir ‘n animasie-ontploffing uit alle hoeke op grootskerms wȇreldwyd.

Al haper die draaiboek en stelinkleding van Fireheart plek-plek, kan jy met springmielies terugsit en vasgordel vir die animasie-avontuur van ander halfuur. Saam met kaptein Shawn en sy brandstryders in hul bloedrooi waens rondrits wyl die Groot Appel se bekende buurte en wolkekrabbers verbyflits. Tussendeur word jy ‘n lessie of twee ryker oor menswees, spanwerk, familiewaardes en die geskiedenis van vroueberegtiging. Verbreed dit kykers se kennis en uitkyke hieroor alleen, is dit g’n geld- of tydmors nie.

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!