Skip to main content

C-Storm – Môre sal die son weer skyn

Deur die duiwel versoek om elke hoek van my lewe… sal God my vergewe?”

Dit is dié amperse smeek-vraag wat die sanger en liriekskrywer C-Storm in sy nuutste enkelsnit Môre sal die son weer skyn vra.

Die snit wyk heelwat van die wenresep van sy vorige vier enkelsnitte af en tuimel amper-amper oor die randjie van gospel.

Maar as jy fyn daarna luister sal jy agterkom dat dit eintlik ’n baie privaat gebed tussen die liedjieskrywer en God is.  Met dié snit beweeg hy in die rigting van Koos du Plessis se Gebed – ’n sekulêre tipe smeekgebed wat baie liriekskrywers al probeer naboots het, maar nie altyd so suksesvol was nie. C-Storm, wat hom al gevestig het as ’n liriekskrywer met integriteit, slaag egter daarin om níe net van die smeekgebed ’n cliché te maak nie, maar ook om die boodskap van hoop en vergifnis in sy eie unieke styl oor te dra.

Die elektriese kitaarwerk op die snit is ook uitstekend en ’n mens kan duidelik die invloed van Pink Floyd hoor – die groep het ook ’n reuse-invloed op sy musiekstyl gehad.

Môre sal die son weer skyn het verlede jaar op sy debuutalbum Haal asem verskyn en die snit is geloof as “’n besondere snit wat van diepere waardes en oortuigings spreek.”

C-Storm sê: “Ons almal gaan deur verskillende seisoene in die lewe, soms het mens geen beheer oor wat met jou gebeur nie, maar dan is daar tog tye waar ons sekere besluite neem of nie neem nie, wat ’n direkte invloed op ons welstand het.”

“Wanneer van hierdie besluite soms verkeerde besluite is en dit ons negatief beïnvloed voel ons soms skaam en selfs verbitterd en ons sukkel dan om aan te beweeg.”

“Mense vra maklik vir God om vergifnis, maar ons loop steeds met die skuldgevoel of selfverwyt rond. Dit is eintlik so eenvoudig; vergewe jouself en beweeg aan.”

“G’n mens kan die verlede verander óf die toekoms voorspel nie; maar ons kan uit ons foute leer en elke dag oor begin.

Die boodskap wat hy met die snit wil oordra is dat “die son môre weer sal skyn.”

C-Storm is ’n meester van die metafoor en sy snitte spreek van diepte (sonder die clichés, wat kenmerkend is van Afrikaanse lirieke).

Hy het ook onlangs sy hand aan ’n Engelse snit gewaag. Die snit Amongst the stars wat hy vir die duogroep Footprints on the moon geskryf het, het die semi-finale ronde van ’n internasionale liedjieskryfkompetisie gehaal.

Môre sal die son weer skyn is rou-opreg en ’n liedjie wat as ’n daaglikse inspirasie kan dien.

Leave a Reply

error: Content is protected !!