Die DA gaan hof toe om te verhoed dat die regering die nasionale ramptoestand aanhoudend verleng.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het dit aangekondig nadat die regering besluit het om die ramptoestand wéér met ‘n maand te verleng.
“Die ramptoestand sal nou op 15 April verstryk. Ons sal nie toelaat dat ons demokrasie onbepaald opgeskort word ten gunste van heerskappy deur ‘n dekreet, met geen demokratiese kontrole en teenwigte nie. Ek het ons prokureurs opdrag gegee om ‘n dringende hofaansoek in te dien na Dinsdag se irrasionele en onredelike uitbreiding van die ramptoestand. Maar dit is nie genoeg om net die toestand van ramp te beëindig nie. Die inperking self moet eindig. Dit kan nie net permanente wetgewing word, soos die regering probeer doen nie,” het Steenhuisen gesê.