Die polisie in Gauteng is op soek na sowat 12 verdagtes wat gisteraand met ‘n onbekende bedrag geld gevlug het tydens ‘n transitorooftog op die N4 Oos naby die Watermeyer-afrit net buite Pretoria.
Die N4 was vir etlike ure gisteraand gesluit nadat ‘n CIT-voertuig in ‘n lokval oorval is, voordat ‘n skietgeveg ontstaan het.
Twee veiligheidswagte is in die rooftog gewond en ernstig beseer tydens die rooftog.
Die kontantwa was vanaf Modimolle (Nylstroom) na ‘n kontantdepot in Silverton oppad toe ‘n groep van sowat 12 verdagtes, met vyf voertuie, die kontantwa in ‘n lokval gelei het.
Polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Robert Netshiunda het gesê: “twee van die verdagtes se voertuie het tydens die voorval aan die brand geslaan. ‘n Skietgeveg het daarna tussen die wagte en die verdagtes uitgebreek, en ‘n onbekende bedrag geld is gevat.”
Charles Mabaso, die woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê: “paramedici en brandbestryders het om 21:15 ‘n oproep ontvang. Met hul aankoms op die toneel het hulle drie voertuie gevind wat aan die brand was, waarvan een ‘n kontant-transitovoertuig was.”
Volgens Emer-G-Med paramedici Kyle van Reenen, het die veiligheidswagte ook skietwonde opgedoen. Een van die wagte was in ‘n kritieke toestand en is op die toneel behandel, gestabiliseer en met lugvervoer na die naaste hospitaal geneem. Die ander wag is met matige tot ernstige beserings na die Muelmed-hospitaal vervoer.
Die polisie ondersoek ‘n saak van roof, poging tot moord en die besit van plofstof.