Vir gewone mense is die oorlog in die Oekraïne iets heeltemal anders as dit wat ons op televisie sien. Die Waarheid het met ‘n Oekraïnse burger, Yury Vichitov, gesels oor die ervaring van burgerlikes in die land.
Vichitov se werk neem hom regoor die wêreld. Drie weke gelede is hy huistoe, maar kon nie sy land binnekom nie. Sy gesin is vasgekeer in die stad Melitopol en kan nie uit nie. Hy het gister teruggekeer werk toe omdat dit letterlik al is wat hy op die oomblik kan doen.
Hy het ‘n prentjie geskilder wat hoegenaamd nie lyk soos die prentjie waarna ons in die media kyk nie. Hy is op Telegram verbind aan sy makkers regoor die land. Dus kry hy vars nuus van oral.
Die onderwerp wat nou die meeste aandag trek, is die missielaanval op Yavoruv, waar ‘n groot gros vegters van regoor die wêreld vergader om opleiding te kry en om daarna te ontplooi op die gevegsfront.
Die Russe het die basis gister bestook met 30 missiele. Die media sê 35 vreemdelinge is dood, maar die manne op die grond sê dit is nader aan 200. Die oorlewendes is almal terug oor die Poolse grens en het, volgens die Oekraïnse vlugtelinge wat reeds daar is, hulle lus vir veg heeltemal verloor.
‘n Klomp van hulle is veterane van onder andere die Siriese oorlog, maar hulle sê hierdie oorlog is hel. Verder sê Yury dat hulle die oorlog nou al vir jare verwag, maar die aanduidings was dat dit nie sommer sal gebeur voor 2024 nie. Die rede waarom die meeste Oekraïners ‘n inval verwag het, het te doen met president Volodymyr Zelensky se weiering om neutraliteit te waarborg.
Zelensky word nie deur gewone mense beskou as ‘n leier nie, maar as iemand wat die rol van ‘n leier speel. Hy het juis voor sy presidentskap roem verwerf as akteur en het onder meer die rol van die president gespeel in die gewilde TV-reeks Dienaar van die Mense.
Hy het blykbaar geen beheer oor sy generaals nie, wat besluite maak soos hulle goeddink. Hy sê ook dat die Azov-brigade baie meer mag het as wat die media hulle krediet voor gee.
Twee dae voor die Russiese inval het dit bekend geword dat die Oekraïnse weermag ‘n groot offensief gaan loods op Donbas. Die offensief is gedryf deur Azov. Die Russe is gedwing om op te tree en hulle het die inval afgeskop voordat hulle wou.
Yury het letterlik twee dae voor die aanval vir sy vrou gesê om die kar vol brandstof te maak en om ander planne te maak vir hul veiligheid. Melitopol is een van die eerste stede wat geval het, maar Yury se gesin is heeltemal veilig. Hulle het krag, water en selfoon-ontvangs.
Toegangsroetes word beheer en hulle het ‘n klokreël, maar solank as wat daar nie weerstand is nie, word jy uitgelos. As jy egter nie stop wanneer jy gevra word om dit te doen nie, skiet hulle sonder aarseling.
Hy sê dat berigte soos dié oor kleuterskoolslagoffers is grootliks snert. Die Oekraïne was in ‘n vol grendelstaat tydens die inval en daar was geen kinders in die skole nie. Dit word egter gebruik as basisse deur die Oekraïnse weermag omdat dit die veiligste moontlike alternatief is.
Alle harde teikens is in die eerste drie dae uitgewis. Hy het geen vertroue in die weermag nie. Volgens hom is hulle korrup van bo na onder. Hy en meeste van sy landsgenote het ook geen vertroue in Zelensky nie.
Alhoewel hulle geen ooghare vir Putin het nie, verstaan hulle waarom die oorlog gebeur en die rede is Zelensky, sy vryerigheid na die Weste en sy totale onvermoë om sy generaals te beheer. Hulle haat hom omdat hy met bitter min moeite die situasie heeltemal kon ontlont.
Hy sê dat dit algemene kennis is dat Rusland nie sal ophou totdat hulle doelwit volledig bereik is nie. Dit sal nie lank wees nadat Kiev val nie. Tussen hulle bespiegel hulle op Telegram dat Kiev sal val binne die volgende twee weke en dat die oorlog effektief oor sal wees twee weke daarna.
Die rede waarom Kiev nie reeds gegroet het nie, is omdat die Russe regtig probeer om siviele ongevalle te beperk, soos wat duidelik blyk uit Yury se gesin se situasie in Melitopol. Hoe harder daar weerstand gebied word, hoe harder druk die Russe.
Hy sê dat hy reeds vrede gemaak het met die feit dat sy kinders onder ‘n Russiese sisteem gaan grootword. Melitopol is net noord van die Krimea en sy familie daar is heeltemal gelukkig met Russiese beheer.
Hy beoog om sy gesin Istanboel toe te neem sodra hulle uitkom. Soos bo genoem verwag hy dat dit oor ‘n maand sal wees. Daar sal hulle bly tot dinge gekalmeer het en dan sal hy en sy gesin terugkeer na Melitopol.