Ekurhuleni (CoE) gaan sedert Januarie vanjaar gebuk onder erge kragonderbrekings.
Die areas wat die meeste geraak word is Bredell, Pomona en Brentwood Park, en sommige kragonderbrekings duur so lank as vyf dae. Tot dusver was daar geen terugvoer oor die lang onderbrekings nie.
In ‘n persverklaring in Februarie het die MMC van Water, Sanitasie en Energie, Senzi Sibeko, die vorige administrasie die skuld gegee en het gesê dat hulle verouderde en swak bestuurde energie-infrastruktuur agtergelaat het, maar later dieselfde maand het Eskom ‘n verklaring uitgereik wat sê dat CoE hulle geld skuld.
CoE het die bewerings ontken.
Tania Campbell, die burgemeester wat nou 100 dae die burgemeesterstoel beset, het groot planne vir die munisipaliteit.
Sy het gesê dat R117 miljoen bewillig was om kragvoorsiening te verseker vir dié area. R40 miljoen hiervan sal aan onderhoud spandeer word, en die res om nuwe infrastrukture in plek te kry.