Skip to main content

ISAAC CLOETE

 “Start unknown and end unforgetable.”

Dit is een van Tamelyn Bock (25), die eerste Mej Rolstoel SA, se geliekoosde slagspreuk wat sy orals saamneem. Ook na Mexiko.

Sy het onlangs planne in plek gestel om in alle erns fondse in te samel vir haar deelname oorsee.

Die loodsing het Vrydagaand by die Springbok Inn op Springbok plaasgevind. Alhoewel die opkoms nie na wense was nie, was daar tog groot opgewondenheid en hoop oor haar deelname later oorsee.

Bock, van Nababeep in Namakwaland, was verlede jaar gekroon as die wenner van die eerste Mej Rolstoel SA. Sy is tans besig om fondse in te samel sodat sy in Oktober in Mexiko aan Mej Rolstoel Wêreld kan deelneem.

Tydens die  geleentheid het die prediker, ds Jacques Jacobs (VGK), gesê dat Suid-Afrikaners meesters is as dit kom by uitsluiting of groepvorming.

Volgens hom sou die saal volgepak gewees het as die geleentheid oor ‘n Mej SA gegaan het. Die feit dat dit oor Mej Rolstoel gaan was volgens hom die rede hoekom die opkoms nie na wense was nie. Hy skryf dit toe aan uitsluiting en min belangstelling teenoor mense met gestremdhede.

Die gasspreker was Stevan Balie, vader van die bekende Dean Balie, akteur en radio-persoonlikheid. Hy het na ‘n aanhaling van Martin Luther King (jr) verwys. Dit lê klem op die feit dat ‘n mens vorentoe moet beweeg ten spyte van struikelblokke. Soos Tamelyn deelgeneem het ten spyte van vele uitdagings.

Tamelyn het vertel dat sy baie gesukkel het om permanente werk te kry as ‘n persoon met ‘n gestremdheid. Sy het toe maar besluit om aan Mej Rolstoel SA deel te neem. En die res is geskiedenis.

Tydens die geleentheid is haar webwerf ook bekend gestel waarop mense kan ingaan om donasies te maak. Haar selfoon is: 071 315 8220.

* Intussen het ‘n bekende sakeman in Namakwaland hom ontferm oor haar. Hy het onderneem om ‘n groot finansiële bydrae te maak wanneer hy binnekort na Springbok terugkeer.

Leave a Reply