Die polisie het ‘n vragmotor wat vermoedelik gouddraende stof oor die Botswana-grens vervoer het, deursoek en twee mans in hegtenis geneem.
In ‘n poging om transnasionale misdade hok te slaan, het waaksame polisiebeamptes by die Ramatlabama-poort, ‘n Volvo-vragmotor wat Suid-Afrika vanaf Zambië via Botswana binnegekom het, gestop en deursoek. Die vragmotor was na Johannesburg op pad.
Tydens die soektog het die polisie ongeveer 50 sakke ontdek wat moontlike gouddraende materiaal bevat het. Die bestuurder en passasier kon nie rekenskap gee van die goedere of enige dokumentasie of magtiging toon om in besit van hierdie materiaal te wees nie. Die twee, 22 en 28 jaar oud, is onmiddellik in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in die Molopo-landdroshof in Mmabatho verskyn op ‘n aanklag van die besit van moontlike gouddraende materiaal.