Skip to main content

President Cyril Ramaphosa het gesê dat hy in ‘n telefoonoproep met die Russiese president Vladimir Poetin die SA regering se “standpunt oor die konflik” met die Oekraïne uiteengesit het en sy oortuiging dat die konflik “deur bemiddeling en onderhandeling opgelos moet word”.

Volgens Ramaphosa het Poetin die SA regering se “gebalanseerde benadering” waardeer. Ramaphosa het ook gesê dat SA as ‘n BRICS-lid genader is “om ‘n bemiddelingsrol te speel”.

Die Kremlin het in ’n verklaring gesê dat die leiers gelukwensings uitgeruil het met die 30ste herdenking van diplomatieke betrekkinge tussen Rusland en Suid-Afrika, en die twee presidente het ook “hul verbintenis bevestig om die bilaterale strategiese vennootskap verder te ontwikkel”. Oor die konflik met die Oekraïne het die Kremlin beweer Ramaphosa en Poetin het gepraat oor die “redes vir en doelwitte van die spesiale militêre operasie om Donbas te beskerm”, berig News24.

Terwyl Rusland se inval in die Oekraïne sy 18de dag aangebreek het, is die Suid-Afrikaanse regering daarvan beskuldig dat hy draadsit deur nie kant te kies in die konflik nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!