Skip to main content

ISAAC CLOETE 

“Vrou van Samaria, gee my ‘n bietjie water.  Bietjie water om te drink.”

So sing-vra inwoners van Soebatsfontein, langs die Namakwalandse weskus. Hulle moan al baie lank, word vertel, maar sonder enige sukses.

Die dorpie word deur die sukkelende Kamiesberg Munisipaliteit (KBM) op Garies bedien. Die water het aanvanklik aan en af gegaan maar later heeltemal gestop. Verskeie inwoners het later begin siek word weens die gehalte van die water, het inwoners, soos Campbell Brand, vertel.

Raadslid, Dawid Markus, van die nuutgestigte National Economic Fighters(NEF), het vertel  dat hulle al vir die afgelope 2/3 weke soebat dat die probleem aangespreek moet word.

“Ek was al in gesprekke met die speaker en burgemeester, maar niks gebeur nie. Die inwoners sukkel nou met maagaandoenings en siektes. Die water is besmet en ondrinkbaar weens geroeste infrastruktuur by die pompstasie.”

Hy het ook genoem dat daar genoeg boorgatwater is, maar dat dit swak bestuur word.

Blykbaar was daar nog nooit voorheen instandhoudingsdienste gedoen nie. Die pype is stukkend, lek en is met binnebande aanmekaar gebind, volgens foto’s in Die Waarheid se besit.

Die KBM het ook nie trokke om water na die gemeenskappe te bring nie. Dit veroorsaak swak dienslewering.

Dit het ook aan die lig gekom dat verskeie klagtes al gaan lê was by die KBM. Hiervan het nog niks gekom nie. Boonop sit die inwoners van Soebatsfontein nou al vir ‘n paar dae sonder water weens die lekkasies. Hulle gesoebat val steeds op dowe ore, word vertel.

Verskeie inwoners hier het beaam wat Markus vertel het. Hulle voel dat hulle in die steek gelaat word. En dat water ‘n basiese reg is.

Rufus Beukes, die munisipale bestuurder op Garies, het gesê dat hy nou vir die eerste keer hiervan hoor toe hy hieroor genader was.

“Dis jammerlik dat die inwoners van Soebatsfontein dit nog nie een keer by my of die tegniese bestuurder aangemeld het nie.”

Vrydag was die KBM juis weer in die Hooggeregshof in Kimberley weens swak dienslewering. Die keer is die respondente die Koingnaas belastingbetalersvereniging. Laagenoemde staan ‘n tydelike bevel teen om nie self munisipale dienste te lewer nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!