ISAAC CLOETE
Om net te skree ‘genoeg is genoeg,’ is lankal nie meer genoeg vir bekommerde ouers nie.
Dit is waarom hulle laas Vrydag vroeg-oggend by die SA van Wyk Hoërskool as hekwagte gaan diens doen het. Hier is leerlinge van Bergsig, naby Springbok, eers gesaniteer. Hierna het ouers hulle deurgesoek vir wapens of enige skerp voorwerpe.
Die ouers het ook besluit dat die leerlinge nie Vrydag klasse sou bywoon nie weens verskeie redes. Dit sluit onder andere in die tekort aan onderwysers, oorvol klasse, inbrake, dissipline by die skool en die gebruik van skadelike middels soos dagga.
Die skoolhoof, HB van Wyk, moes dringend senior personeel van die departement van onderwys op Springbok na die skool ontbied. ‘n Adjunk-direkteur en kringbestuurder het later die skool besoek.
Terwyl hulle die ouers te woord gestaan het, het leerlinge buite rumoerig geword, plakkate geswaai en gedreunsing. SAPD-lede het alles gemoniteer vir enige gebeurlikhede.
Dianne Curnow, die adjunk-direkteur, het aan die ouers vertel dat die DvO alles in hul vermoë doen om die skool se nypende onderwysertekort op te los.
“Leerlinggetalle bepaal die getal onderwysers by ‘n skool, volgens nasionale riglyne. Die skool kan egter ‘n addisionele leerkrag kry as die kurrikullumbehoeftes dit regverdig. Intussen werk die departement hard daaraan om fondse te bekom vir ekstra onderwysers.”
Sy het ook gesê dat die skool wel meriete het vir ‘n ekstra onderwyser, maar dat ouers nie ‘n skool mag sluit nie.
Tans ontvang twee gr.8-klasse nie Engels as vak nie. Een gr.10-klas vir Afrikaans en een vir Wiskundige Geletterdheid is ook in dieselfde bootjie, volgens die skool se vertoë aan die departement.
Ouers het teenoor Curnow redelik bors skoongemaak omdat hulle voel dat die skool baie leerlinge verloor weens genoemde probleme.
Een het gesê: “Die vakkeuses is die probleem, want dit is onvoldoende of irrelevant.”
Die leerlinge het later by die byeenkomsplek vergader waar die personeel hulle toegespreek het. Hulle het egter geweier om klasse toe te gaan totdat aan hulle versoeke aandag gegee word.
* Vrydagmiddag laat het die DvO bekend gemaak dat SA van Wyk hoërskool, wel ‘n addisionele onderwyser sal kry.
Volgens Geoffrey van der Merwe, die woordvoerder van die departement, het die addisionele leerkrag vandag hier begin.