’n Bloemfonteinse man het gister in die landdroshof in die stad verskyn nadat hy weens sy vrou se branddood in hegtenis geneem is.
Hy het na bewering sy vrou met ’n vlambare vloeistof bespuit en haar aan die brand gesteek. Die 33-jarige vrou het ernstige brandwonde aan haar gesig en nek opgedoen en is later in die hospitaal dood.
Volgens die polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Thabo Covane, het die 36-jarige man gister in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir die moord op sy vrou.
“Gabriel Modise word daarvan verdink dat hy sy vrou in Tielman Rosestraat, Olive Hill, aan die brand gesteek het.”
Die polisie het ‘n saak van moord by die Navalsig-polisiestasie geopen nadat hulle ‘n verslag van die hospitaal ontvang het.
Covane sê die man is by sy huis in Olive Hill naby Bloemfontein in hegtenis geneem.
Die saak is tot Maandag uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek.