Die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van Solomon (Solly) Nengwane, ‘n polisie-informant wat in aanhouding dood is, is Maandag in die Brits Landdroshof tot Oktober uitgestel.
Nengwane is op 6 Junie 2006 in aanhouding oorlede by die Mmakau polisiekantoor. Na 17 jaar is niemand nog vir sy dood vervolg nie.
Nengwane is een van vyf persone wat destyds daarvan beskuldig is dat hulle miljoene Amerikaanse dollar van ’n Benoni-polisiestasie gesteel het. Dié geld is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het onder verdagte omstandighede verdwyn.
Advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op.
In 2018 het die Suid-Gauteng Direkteur van Openbare Vervolging besluit dat 10 polisie-offisiere vervolg moet word, maar daar het niks van gekom nie.
Slegs vyf van die sewe polisiebeamptes het in September 2021 in die hof verskyn, ondanks die feit dat hulle almal gedagvaar was om in die hof te verskyn en ook op ’n vorige hofdatum versuim het om op te daag.
Die uitstel volg omdat ’n nuwe landdros die GDO gaan waarneem en omdat Luitenant-kolonel Isaac Thlape, een van die die sewe polisiebeamptes wat betrokke was, op 13 Februarie 2022 in ’n motorongeluk oorlede is. Thlape was by die Brits-polisiestasie gestasioneer.