Weens verdere kragopwekkers wat onklaar geraak het, sal Fase 4-beurtkrag vanaf 09:00 vanoggend tot 05:00 Vrydag 11 Maart geïmplementeer word. Eskom vra om verskoning vir die implementering van beurtkrag, en sal deurlopend die situasie hersien en toepaslik optree soos omstandighede verander.
Een eenheid elk het oornag by Kendal, Duvha, Camden en Kusile onklaar geraak.
Sedert gisteraand het die Eskom-spanne vier ander opwekkingseenhede weer in diens gebring. Twee ander eenhede is egter vanlyn geneem vir herstelwerk. ‘n Verdere twee eenhede sal na verwagting vandag weer in diens wees, terwyl ‘n bykomende vier eenhede na verwagting teen die naweek weer in diens sal wees.
Totale onklaarrakings beloop 16 505 MW terwyl beplande instandhouding 5 505 MW se kapasiteit is.
Eskom doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om ons te help om die impak van beurtkrag te beperk deur die gebruik van elektrisiteit te verminder en om alle nie-noodsaaklike items af te skakel.
Ons sal stiptelik kommunikeer indien daar enige beduidende veranderinge aan die kragstelsel is.
In ‘n beurtkragverwante verwikkeling doen Metrorail ‘n beroep op al Kaapstad se treinpendelaars om alternatiewe reisreëlings te tref in die lig van die aankondiging deur Eskom Maandag van hernieude Fase 2-beurtkrag wat tot die naweek sal voortduur. Eskom sê sy Eenheid 3 by die Medupi-kragstasie het onklaar geraak.
Metrorail het gesê hy het geen ander keuse as om sy dienste op te skort terwyl Eskom tans besig is om die probleem aan hul kant reg te stel nie.