DIRK LOTRIET
Laat ek sommer by voorbaat wegspring deur te beklemtoon dat hierdie nie beleggingsraad is nie. Die doel van hierdie artikel is om lesers wat graag ‘n paar rand in beleggings waag, te laat nadink en debat uit te lok.
Vandag konsentreer ek op silwer, goud se minder aantreklike stiefboetie.
Silwer is, soos goud en platinum, ‘n edelmetaal wat vir beleggers in tye van onsekerheid skuiling bied. En mens kry nie veel meer onseker as die tye waarin ons nou leef nie!
Dit bied weliswaar nie dividende nie, maar verskans jou geld teen wisselkoers-onstuimigheid en inflasie.
Die laaste jaar of wat het silwer, goud se minder aantreklike stiefboetie, my oog gevang en ek glo vas die silwerprys gaan hierdie jaar styg. Nie net hierdie jaar nie, maar oor die volgende vyf jaar. En hier is my redes:
- Slimmer mense as ek dink die silwerprys gaan die jaar styg.
Natuurlik stem beleggingsdeskundiges nie saam as dit kom by hulle voorspellings vir die silwerprys in 2022 nie. Verlede jaar was die gemiddelde silwerprys $25,03 en die edelmetaal het die jaar op $23,08 afgesluit. Vanoggend was die silwerprys $26,26 – wat beteken die silwerprys het vanjaar reeds met ‘n goeie lopie vorendag gekom.
Daar is Negatiewe Neelsies wat voorspel dat die silwerprys die jaar so laag soos $17 sal afsluit, maar daar is ook heelwat voorspellings van ‘n silwerprys so hoog soos $50 teen die einde van die jaar en tussen $100 en selfs $500 oor die volgende vyf jaar.
Die algemene opinie is dat ons vanjaar ‘n gesonde styging van tot bo die rekordhoogtes van $35 per ons van 2011 gaan sien.
- Die vraag het die aanbod verlede jaar oorskry.
Silwer is nie net ‘n mooi metaal waarmee eetgerei en goedkoper juweliersware gemaak word nie. Dit speel ‘n geweldig groot rol in die wêreld se groen tegnologie en toekomsplanne om skoon energie te lewer en dit word toenemend in die gesondheidsbedryf gebruik omdat dit anti-mikrobiese eienskappe het. Sonkragpanele bevat ook silwer. Dit laat die vraag na silwer natuurlik styg, en ons almal verstaan die teorie van vraag en aanbod.
Verlede jaar het die vraag na silwer die eerste keer ‘n miljard onse oorskry, en die vraag gaan net groei.
- Die verhouding tussen die silwer- en goudprys
Silwer het die manier om die goudprys te volg. Ek praat nie hier van ‘n gelyktydige styging of daling nie – silwer volg dieselfde tendense, maar ‘n tydjie ná goud. Die algemene geloof is dat die goudprys vanjaar gaan styg, dus kan mens verwag dat silwer ook gaan styg.
Dis egter nie net die tendense wat ooreenstem nie. Die prysverhouding volg ook ‘n band. ‘n Ons silwer kos gewoonlik tussen een sestigste en een twintigste van ‘n ons goud. Op die oomblik is die silwerprys een sewe-en-sewentigste van die goudprys, wat baie duidelik wys dat silwer onderwaardeer is. As goud styg tot $2 200 per ons en die silwerprys normaliseer in vergelyking tot goud soos dit histories algemeen is, (een dertigste), kan die silwerprys tot $73 klim.
Die groot Amerikaanse beleggingsmaatskappy Goehring & Rozencwajg Associates glo die goudprys kan hierdie dekade nog die hengse sielkundige grens van $10 000 per ons toets. En hulle glo die silwer-goud-verhouding kan in dieselfde tyd 1:20 haal, soos dit al by ‘n hele paar geleenthede in die geskiedenis gedoen het. Dit beteken ‘n silwerprys van $500 per ons… nog hierdie dekade.
Hoe moet ek in silwer belê?
Die antwoord is eenvoudig – op enige manier moontlik. Ek koop silwer munte, juweliersware, eetgerei… en ek betaal te veel daarvoor, want ek is ‘n idoot.
Maar die verstandigste belegging, sover dit my aanbetref, is silwer munte. Nie goed wat versamelwaarde het nie, maar die munte waar die prys hoofsaaklik deur die waarde van die metaal bepaal word – sogenaamde bullion-munte. Plus ‘n klein bedraggie vir die slaan van die munte. Goed soos silwer Krugerrande, die Amerikaanse Silver Eagle of die Kanadese Maple Leaf.
Sasilver.co.za verkoop silwer Krugerrande op die oomblik vir R550 elke en R13 675 vir ‘n pak van 25.
Randburg Coin vra min of meer dieselfde vir die meeste van die internasionale munte, wat dit baie bekostigbaarder maak as bv. ‘n goue Krugerrand.
Ek sê beslis nie jy moet nou jou beursie uithaal en silwer begin koop nie. Maar ek sê dit is ‘n beleggingsmoontlikheid wat ons nie een durf ignoreer nie.