Vier mans is in hegtenis geneem ná die moord op ’n paartjie van Carolina, Mpumalanga.
Die liggame van Leonore van den Heever (63) en Renier Lens (83) is Dinsdagoggend in ’n kommune in Voortrekkerstraat in Carolina gevind.
Kol. Donald Mdhluli, die provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is om 07:10 ontbied, nadat inwoners onraad vermoed het omdat hulle die paartjie lanklaas gesien het.
Mdhluli het gesê die deure na die paartjie se huis in die kommune was nie gesluit nie en die polisie het hul liggame in hul kamer gevind.
Hy sê dit is nog nie duidelik presies wat die oorsaak van hul dood was nie. Hulle het ook nog nie vasgestel vir hoe lank die paartjie reeds dood was voordat die polisie hulle liggame gevind het nie.
Daar was sigbare wonde aan Renier se liggaam opgemerk, maar daar kon geen wonde aan Leonore se liggaam gevind word nie.
Die polisie het leidrade opgevolg nadat inligting deur lede van die publiek verskaf is. Die vier verdagtes is later die dag in Carolina vasgetrek,” het Mdhluli gesê.
Die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Carolina verskyn.