Die Saint George Hotel in Irene sal na verwagting die tuiste van die Departement van Verdediging se Oorlogskollege en SA Nasionale Verdedigingskollege word. Die wenkbroue het gelig toe dit blyk dat die huurooreenkoms sonder ’n oop tenderproses deurgejaag is.
Die hoof van logistiek by die departement van verdediging, luitenant-generaal Jabu Mbuli, het gesê die departement het die SA Weermagstigting genader om ‘n geskikte perseel te vind, en daarom is geen oop tenderproses gevolg nie.
Daar is nie vir die lokaal se buitensporige huurgeld – na verneem word R5 miljoen per maand – begroot nie, en sou enige finansiële beampte geld vrystel uit fondse wat reeds aan bestaande huurkontrakte verbind is, kan hulle aanspreeklik gehou word indien dit deur die ouditeur-generaal gemerk word.