Die voormalige minister van minerale bronne en energie, die 69-jarige Jeff Radebe, het sy oog op die pos van die ANC-adjunkpresident. Die ANC se verkiesingskonferensie vind in Desember plaas.
Een van Radebe se ondersteuners het aan die Citizen gesê dat Radebe se ondervinding in die ANC en in die staat wys “hy is in staat om te verseker dat regeringsmasjinerie werk”, en bygevoeg dat president Cyril Ramaphosa “’n adjunk nodig het wat vertroud is met die masjinerie”.
“Radebe se senioriteit en die feit dat hy die sleuteldrywer van ANC-beleid was, plaas hom in ’n goeie plek om respek in die regering te kry, waardigheid aan die kantoor te bring en seker te maak dat ANC-beleid geïmplementeer word.”
Dit is ‘n magtige pos om te beklee aangesien die persoon wat in hierdie stoel sit, die jurisdiksie sal hê om te sê watter ANC lid watter pos mag beklee.
Ander lede mik ook na hierdie pos. Dit sluit in Thandi Modise, die minister van verdediging en militêre veterane, Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, Boy Mamabolo, die voormalige ANCYL-voorsitter van Limpopo, David Mabuza, adjunkpresident van die ANC, Dr Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Nkhensani Kubayi-Ngubane, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Gwede Mantashe, die minister van minerale bronne en energie en Oscar Mabuyane, die Oos-Kaap premier.