Sonnette Lombaard
The Batman
Superheld-aksiedrama
Met Robert Pattinson, Zoë Kravitz, Colin Farrell, Paul Dano, Peter Sarsgaard en Andy Serkis.
Catwoman koer Batman dronk
In ‘n onstuimige millennium en moderne mensdom waarbinne geslag en seksualiteit sterk onder loep is, is dit seker wensdenkery en onvermydelik dat selfs superhelde ongeskonde sal voortgedy.
Die brawe nuwe regisseur van die Batman-franchise – die gewildste held in die heelal se sterhemel met strokieboekredders – meen die tyd is ryp. En siedaar: welkom aan Batman van die 21ste eeu wat agter sy masker en mantel ‘n gefolterde siel wegsteek en na dese die uitgehongerde voorkoms van ‘n rockster op ‘n high afwys.
Yankregisseur Matt Reeves het tereg in die donkerlandskap gaan soek vir ‘n akteur om voortaan sy visie vir die geheimsinnige biljoenȇr-weldoener Bruce Wayne en sy alter ego Batman uit te dra. Reeves het vroeg verklaar hy wil Brit Christopher Nolan – regisseur van die hoogaangeprese Batman-trilogie – se donkerder aanslag voortsit maar gaan ‘n meer eietydse Batman lanseer.
Die rysige Engelsman Robert Pattinson het die perfekte kombo van ‘n bleek vel en fors manlikheid met ‘n uitklopgesig en sensitiewe oë. Boonop ken hy fliekkarakters wat in die donker tot hul reg kom. Pattinson het in Harry Potter gedebuteer en sy hartebreker-vampier was deel van die wȇreldwye wegholsukses in die Twilight-flieks.
Daarna het hy sy rolle met oorleg gekies vir ‘n veelsydige portefeulje wat bly beïndruk. Sy buiging in superheldmondering is in The Batman wat vandag landwyd begin draai.
Reeves, wat ook die mede-draaiboekskrywer is, het sy woord gehou dat hy gaan afwyk van bestaande Batman-storielyne en ‘n splinternuwe superheld en karakters wil bekendstel. Sommige fliekgangers mag frons want in The Batman is Bruce Wayne as playboy ‘n metroman met moderne kapsel … wat in slierte hang wanneer hy snags kaal bolyf met grouoge spoke verjaag en oor sielsondes wroeg. Oorsese resensente het gou opgemerk Pattinson is die eerste Batman met ooglopende ooggrimering.
Die Britse akteur (35) het vandeesweek sy streng regime verklap om homself superfiks en reg vir die Batman-pak en voorkoms te kry. Hy het liggaambouers en stoeiers se raad gevolg en selfs inname van waterslukkies beperk vir gewigsverlies en ‘n meer gedefinieerde voorkoms met hol wange.
Die storie spring terug in tyd na Gotham City wat oudergewoonte vervuil is van skurke. Dit raak persoonlik want Bruce word met sondes van die vaders gekonfronteer. Sy min vertrouelinge sluit in gesinsvriend Alfred Pennyworth (Andy Serkis) en lt. James Gordon (Jeffrey Wright).
In sy stryd om grootskaalse korrupsie uit te roei, moet hy hande vuil maak in die onderwȇreld. Waar Selina Kyle oftewel Catwoman (Zoë Kravitz) rondsluip en Oswald Cobblepot, of die Penguin, (‘n onherkenbare Colin Farrell) en Carmine Falcone (John Turturro) skuil. En die glibberige meesterbrein Edward Nashton of die Riddler (Paul Dano is creepy verby as die androgene psigopaat).
En so wraggies steel ‘n vrou so byna ons gespierde superheld se kollig. Die mooie Kravitz se genepoel-jackpot is pa, sanger Lenny Kravitz, en ma, aktrise Lisa Bonet. Sy smeul as die tawwe katjie met wangbene en oë wat deurboor. In ‘n klewende sexy leerpak laat haar Catwoman se chemistry met Pattinson se broeiende Batman die skerm heerlik opvonk. Parmantig deel sy Batman iewers mee: “Bat and Cat, there’s a ring to it.” Inderdaad.
Nie dat Pattinson nie sy kant bring in sy dualrol as Batman en Bruce nie. As welaf-weldoener lyk hy kompleet posh boy wat uit sy private skool ontsnap om in donker hole te gaan fuif. Die fliek is in Brittanje geskiet en die klankbaan pronk gepas ook met Engesle kerkkoormusiek wat perfek versmelt met die moody, donker doekbeelde regdeur. Die kamerawerk is van hoogstaande gehalte: dit gryp en hou jou gevange op die intense reis deur donker en dekadente draaie.
Dit kom oor of Reeves, wat reeds die kontrak beklink het vir die volgende Batman-fliek en twee spinoffs, hom in sy eerste aflewering in toom gehou het. Groot gewag is gemaak dat sy Batman op rockgod Kurt Cobain gegrond is. Een van sy songs word wel gehoor, maar die beloofde indringende beligting van Bruce Wayne se donker en gewonde siel stel teleur. Dalk kom dit nog.
Ondanks die lang sit van drie ure en miskien te veel skurke vir een kykdosis, hou die fliek jou enduit wakker. Die beeldskone einde op warm wiele en blink begeertes is ‘n lieflike bonus en bevestig superheldstatus kom nie sonder ‘n prys nie.