Die Wes-Kaapse polisie sal nie misdadigers in hul geledere huisves nie, en alles sal gepoog word om die SAPD van ongewenste individue te suiwer. Dit is presies wat vier lede van die Khayelitsha Taktiese Reaksiespan op die harde manier moes leer toe hulle gisteraand weens afpersing, diefstal en regsverydeling in hegtenis geneem is. Die drie sersante van 37, 40 en 44 en ‘n 32-jarige konstabel sal na verwagting vandaghul hofverskyning in Vishoek maak om die aanklagte teen hulle in die gesig te staar.
Die arrestasie van die verdagtes word gevolg deur ‘n ondersoek deur die Anti-Korrupsie Eenheid na ‘n voorval op 18 Februarie waar ‘n voertuig deur hulle in Eersterivier gestop is vir ‘n roetine-soektog. In dié voertuig het die lede 6 kg dagga en kontant gevind. In plaas daarvan om die bestuurder in hegtenis te neem, het hulle hom oorreed om hulle na sy woning in Muizenberg te neem en vir sy vryheid te betaal. By sy woning het die lede nog dagga en kontant ontdek wat hulle gekonfiskeer en nagelaat het om dit as bewysstukke in te gee. Die man het sy beproewing by die polisie aangemeld en lasbriewe vir die arrestasie van die lede is daarna uitgereik.