Skip to main content

DOREEN VERMAAK

Borgtog van R5 000 is vanmiddag in die Pretoria-Noord-landdroshof aan Schalk van der Merwe en sy vrou Leoni toegestaan.

Van der Merwe is die onderleier van die Nasionale Konserwatiewe Party van Suid-Afrika (NKP) en ‘n menseregte-aktivis.

Die Van der Merwes was meer as ‘n week in aanhouding nadat hulle verlede Woensdag in ‘n polisielokval by Cappuccinos te Wonderboom Junction in hegtenis geneem is. Hulle kon eers gister ‘n formele bortogaansoek bring.

Volgens die Van der Merwes glo hulle Lottering sit agter al die beweringe. Hy teister hulle al lank en voer gereeld op sosiale media ’n smeerveldtog teen hulle.

“Ek en my vrou het ’n teisteringsbevel teen Lottering bekom, wat hy tans oortree. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is einde Februarie 2022 deur die hooflanddros uitgereik. Die polisie het hom nog nie in hegtenis geneem nie,” het Schalk in sy verklaring aangevoer.

Adv. André Swanepoel, die Van der Merwes se regsverteenwoordiger, het gesê  “Dit is vreemd dat die klag van sameswering tot moord kom net dae nadat ’n lasbrief vir mnr. Lottering se inhegtenisneming uitgereik is.”

Tinus Buchling, staatsaanklaer, het die borgtogaansoek teengestaan, maar die hof het dit duidelik gemaak dat daar geen meriete in die bewysstukke was wat die staats gebring het nie.

Bewyse teen hulle het grootliks uit WhatsApp-boodskappe en aangestuurde e-posse tussen Van der Merwe, sy gewese vrou en ’n gesinsregprokureur bestaan.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 6 April uitgestel om die staat die geleentheid te gee om met verdere bewyse vorendag te kom.

Schalk het uitgeput gelyk en het naar geword kort voordat die uitslag bekendgemaak is. Hy het vir water gevra. Leoni het ook tekens van spanning getoon, maar het gesond voorgekom.

Die sakeman Louis Liebenberg, ‘n vriend van Schalk, sê die opposisie teen die Van der Merwes se borgtogaansoek is duidelik sonder meriete en dat daar vermoedelik tekens van vuil spel was.

Lede van Schalk se voormalige skoonfamilie was teenwoordig en was duidelik nie tevrede met die borgtog wat toegestaan is nie.

Daar het na die aansoek ‘n kort meningsverskil tussen ondersteuners en woedende teenstanders van die Van der Merwes buite die hof uitgebreek, maar dit het nie tot geweld gelei nie.

Schalk het die afgelope twee jaar ‘n groot gevolg op sosiale media as ‘n uitgesproke teenstander van gedwonge inentings en die regering se hantering van die Covid-19-pandemie opgebou.

2 Comments

  • Petina says:

    Wat gaan aan met ons liewe Afrikaner-nasie? Kan ons na al die jare steeds nie saamstaan en geskille agter toe deure uitsorteer nie? Hoekom die heksejag op die van der Merwes, die sleg-sê, vernederings en naamskending wat plaasvind? Wie is die verraaiers en die wat dalk omgekoop is? Nee, regtig, ons het genoeg probleme in ons land.

  • Bertha Hattingh says:

    Dankie Vir die regte ware storie! Julle is brilliant!

Leave a Reply to Bertha Hattingh Cancel Reply

error: Content is protected !!