Skip to main content

Die voormalige minister van kommunikasie, ook ‘n ANC-staatmaker, Nomvula Mokonyane staar strafregtelike vervolging in die gesig.

Regter Raymond Zondo vra dat sy vervolg word in die publieke vrystelling van die jongste staatskapingsverslag. Daarin word die invloed wat die ontslape sakeman Gavin Watson en sy maatskappy Bosasa op staatsamptenare gehad het in die verkryging van multimiljardrand-kontrakte, bespreek.

Die verslag, wat Dinsdagaand vrygestel is, vra vir die “verdere ondersoek” van Mokonyane met “prima facie bewyse” van korrupsie teen haar.

“Sulke verdere ondersoek sal ’n prima facie-saak van PRECCA [Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite] ontbloot wat handel oor korrupte aktiwiteite wat verband hou met getuies en bewysmateriaal tydens sekere verrigtinge.”

Die nuutste staatskapingsverslag sit uiteen hoe Watson asook Bosasa vir Mokonyane kruideniersware en ‘n duur verjaarsdagpartytjie ‘geborg’ het wat dan sou sorg dat hulle multimiljardrand-kontrakte by die departement van korrektiewe dienste kon bekom.

Daar is verdoemende bewyse in die Zondo verslag wat verskaf is deur die voormalige Bosasa-bedryfshoof, Angelo Agrizzi. Hy was oorlede Gavin Watson se regterhand.

Die verslag dui ook aan dat Mokonyane onder valse voorwendsels, en deur die arm mense as verskoning te gebruik, probeer het om van korrupsieklagtes te ontsnap.

Agrizzi het vertel hoe Watson maandelikse EFT-betalings van R50 000 aan Mokonyane gemaak het terwyl hy buite haar huis gesit het.

“Mokonyane het aanvanklik Agrizzi se getuienis dat hy by haar huis was, ontken, en Agrizzi het in reaksie hierop besonderhede van die buite- en binnekant van Mokonyane se huis gegee, insluitend waar haar studeerkamer in die huis was,” en uiteindelik, kon Mokonyane nie meer ontken dat Agrizzi in haar huis was nie, lui die Zondo verslag.

“Mokonyane het aanvanklik Agrizzi se bewyse dat Bosasa gereël en betaal het vir haar verjaardagpartytjie wat by die Victorian Guest House gehou is, ontken. Beide mondelinge en dokumentêre [bewyse] het eenvoudig Mokonyane se ontkenning as onsin afgemaak en Agrizzi se getuienis ten volle gestaaf.”

Die verslag sê ook dat Agrizzi getuig het dat Bosasa oor baie jare elke Desember kruideniersware-items sou koop en dit by Mokonyane se huis sou laat aflewer tot haar en haar gesin se voordeel.

“Mokonyane het ontken dat Bosasa enigsins elke Desember enige kruideniersware by haar huis afgelewer het, maar later het haar PA erken dat die kruideniersware deur Bosasa gekoop en by Mokonyane se huis afgelewer is, maar dat die kruideniersware vir arm gemeenskappe was en nie tot voordeel van Mokonyane en haar gesin.

“Die feit dat daardie kruideniersware duur wyn en drank ingesluit het, dui egter daarop dat die kruideniersware nie vir arm gemeenskappe was nie, maar vir Mokonyane en haar gesin,” skryf hy.

Zondo het voorts gesê as die kruideniersware by Mokonyane se huis afgelewer word, maar vir arm gemeenskappe bedoel is, is daar geen manier dat Mokonyane, “as ’n politikus wat haarself as verbonde aan arm gemeenskappe projekteer nie hiervan bewus sou gewees het nie”, lui Zondo se verslag volgens Greame Hoskin in TimesLive.

“Daar sou geen rede vir haar gewees het om te ontken dat Bosasa sulke kruideniersware gekoop en by haar huis afgelewer het nie, want Bosasa sou haar daarvan vertel het en sy sou reëlings getref het vir die aflewering van die kruideniersware aan die arm gemeenskappe,” skryf Zondo voorts.

Zondo het gesê die feit dat Mokonyane ontken dat kruideniersware deur Bosasa afgelewer word, is ‘n aanduiding dat die enigste kruideniersware wat Bosasa by Mokonyane se huis afgelewer het, dié is wat vir haar en haar gesin se voordeel bedoel is.

“Die rede waarom sy hulle ontken het, is omdat sy geweet het dit was onvanpas vir haar om dit toe te laat om te gebeur. Agrizzi het geen rede gehad om Mokonyane valslik by oortreding te betrek nie. Mokonyane het versuim om enige oortuigende rede aan te voer waarom Agrizzi sou besluit het om haar valslik by verkeerde optrede te betrek,” skryf hy.

Leave a Reply

error: Content is protected !!