Skip to main content

Koes Poetin, hier kom Batman!

Sonnette Lombaard

Wyl die wêreld tans asem ophou oor Rus Poetin se vingers wat op kernknoppies boer, daal ‘n universele held tydig neer om die mensdom nogeens van liederlike katastrofes te kom red.

Die vervaardigers van die nuwe Batman-fliek kon nie vir ‘n beter gedekte tafel vra waarby geheimsinnige biljoener-filantroop Bruce Wayne en sy alter ego Batman kan kom aansit nie. Vrydag/môre is D-dag wanneer die afgewagte nuutste aflewering van die supergewilde strokiesboekheld, The Batman, teaters wêreldwyd, ook hier, sal tref.

Interessant genoeg, is die grensloos-gewilde strokiesheld in die VSA geskep in dieselfde jaar – 1939 – waarin die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Dit het sedertdien in ‘n magtige globale franchise ontwikkel wat die dollars laat instroom. Batman is die enigste superheld sonder supermagte en span sy rykdom, intellek en vaardighede in om euwels in Gotham City uit te roei.

Hoewel Batman se koms altyd groot verwagtinge en opwinding by miljoene fliekvlooie oraloor wek, is hierdie een spesiaal, want daar is ‘n nuwe akteur wat die geroemde mantel en masker dra, asook ‘n nuweling in die regiestoel, wat boonop belowe om ons aan ‘n splinternuwe Batman bekend te stel!

Die eertydse tiener-Romeo en voorste vampier Robert Pattinson van Twilight-faam het die gesogte rol van Batman losgeslaan. Die aansienlike Engelsman het intussen mooi grootgeword en moet voortaan ernstiger krisisse koel kan hanteer. Wyl hy oudergewoonte pronkerig The Batmobile en The Batcycle afwys: rykman-speelgoed wat ‘n superheld betaam.

Pattinson skuur groot skouers in die roemryke Batman-anale – onder sy voorgangers is sy landgenoot Christian Bale wat drie keer suksesvol die heldmantel gedra het, en die Yanks Ben Affleck, George Clooney, Val Kilmer en Michael Keaton. Bale se verskyning in The Dark Knight ($533,345,358) en The Dark Knight Rises ($448,139,099) het die meeste geld in die reeks by die loket verdien.

Voortaan sal verskeie nuwe en bekende name saam met Pattinson die Batman-heelal verder uitdra. Zoë Kravitz (as Catwoman), Colin Farrell, Paul Dano, Jeffrey Wright, John Turturro en Peter Sarsgaard verskyn in The Batman.

Die nuwe regisseur aan stuur van die Batman-vaandel is Matt Reeves. Die Amerikaner het vooraf uitgelap dat hy die Batman-franchise gaan reboot oftewel herskep met ‘n splinternuwe begin. Maak jou reg vir die donkerste Batman tot dusver!

Reeves het reeds sy sensitiewe aanslag met kamerakarakters bewys as skepper van die eertydse. bekoorlike TV-dramareeks Felicity met Keri Russell, wat hier ook gewild was. Hy het sy afskopmomentum behou as regisseur van lokettreffers soos Cloverfield (2008), en die sci-fi flieks Dawn of the Planet of the Apes (2014) en War for the Planet of the Apes (2017).

Volgens Reeves skop hy sy herskepping van Batman af deur op die persona en ego agter die superheld in te zoem. Wat maak Batman tiek, of nie, en wat skuil als agter daai masker?

Wyl Reeves die draaiboek gepen het, het hy na Nirvana geluister en terstond besluit om sy Batman op die grunge band se enigmatiese voorsanger wyle Kurt Cobain te grond. Kiekies van die nuwe Batman wys hoeka Pattinso met ‘n byderwetse bob-haarstyl en groudonker kringe onder die oe.

Batman se geheime en wel en wee hou die mensdom al bykans vier dekades in afwagting en aan die raai. ‘n Kanadese universiteit bied selfs ‘n kursus in die wetenskap van Batman aan.

Vars storielyne wat tussen die toekoms, hede en verlede rondspring en nuwe akteurs en hul voorkomste ten spyte, is een ding vir seker: Suid-Afrikaanse aanhangers sal, soos elders, die nuwe Batman nuuskierig innooi. Die gemaskerde mantelheld sal nooit uit die mode gaan nie.

  • ‘n Resensie van die nuwe Batman-fliek verskyn Vrydag in Die Waarheid.

Leave a Reply

error: Content is protected !!