Skip to main content

1 Maart 1849

Die Kaap Agulhas-vuurtoring begin werk.

Anders as wat algemeen aanvaar word, is Kaap Agulhas en nie Kaappunt nie, die mees suidelike punt van Afrika. Die see rondom Kaap Agulhas – sowat twee uur se ry van Kaapstad af – is baie verraderlik en het al talle skeepswrakke veroorsaak. Daarom is die bou van ‘n vuurtoring by Agulhas in Maart 1837 deur die Kaap se landmeter-generaal en siviele ingenieur, kolonel C.C. Michell, aanbeveel.

Dit het jare geneem vir die Kaapse Wetgewende Raad om die geld in te samel om die vuurtoring te begin bou, maar bouwerk het uiteindelik op 1 April 1847 begin. Op 8 Januarie 1848 is die fondamentsteen gelê in die teenwoordigheid van die goewerneur, sir Harry Smith, Michell en die 90 vreemde werkers wat meer as 18 000 kubieke voet gesnyde messelwerk aangelê het.

Die vuurtoring was gebaseer op die ontwerp van die antieke vuurtoring van Pharos, een van die Sewe Antieke Wonders van die wêreld en dit is van kalksteen gebou. Die vuurtoring het op 1 Maart 1849 begin werk. Vandag is die Agulhas-vuurtoring die tweede oudste werkende vuurtoring in Suid-Afrika en is in 1973 tot nasionale monument verklaar. Die vuurtoring word in kombinasie met ‘n radiosender gebruik om skepe te waarsku om nie te naby aan die kus kom nie.

Die warm Agulhasstroom en die koue Benguelastroom ontmoet iewers tussen Kaap Agulhas en Kaappunt. Besoekers wat die smal leer tot bo in die lighuis klim, word beloon met ‘n panoramiese uitsig oor die Indiese Oseaan.

Verwysings

Accomodation Direct Om die Kaap Agulhas-vuurtoring te sien vanaf Accomodation Diorect [aanlyn]. Beskikbaar by: capetown-direct.com [Besoek: 25 Februarie 2009]| Historiese Media Kaap Agulhas-vuurtoring van Historiese Media [aanlyn]. Beskikbaar by: www.historicalmedia.co.za [Besoek op 13 Maart 2014]

Leave a Reply

error: Content is protected !!