ISAAC CLOETE
In plaas van vreugde moet ‘n skoonheid nou pleit en soebat vir fondse.
Dit is tans die hartseer verhaal van, Tamelyn “Tammie” Bock, ons land se eerste Mej SA rolstoel. Die 25-jarige skoonheid, oorspronklik van Nababeep in Namakwaland, was in 2021 gekroon as Suid-Afrika se eerste Mej Rolstoel.
Daar was toe trane van blydskap en groot opgewondenheid. Veral omdat sy in Oktober in Mexiko aan die Mej Rolstoel Wêreld wil deelneem.
Ongelukkig het die aanvanklike opwinding verander in teleursteling en (weer) trane, weens fondse. Sy het aan Son (op wie se voorblad sy was) gesê:
“Die fondinsameling is nie na wense nie. Ek geniet ook nie die voordele wat Miss SA het nie. Dit kom op diskriminasie neer. Ten spyte van dit probeer ek baie hard met bewusmaking om die saak van persone met gestremhede te bevorder.”
Sy het verder genoem dat haar kroning wel ‘n gratis vliegtuigkaartjie vanaf die OR Tambo-lughawe na Mexiko insluit. Sy moet egter self sien en sorg dat sy vanaf haar huis tot by die lughawe kom.
Vir haar is dit ook hartseer dat haar assistent ‘n eie vliegtuigkaartjie na Mexiko moet koop.
“Behalwe dit is daar so baie ander uitgawes, soos byvoorbeeld vir kostuums, toebehore, ens. Onthou, ek gaan verteenwoordig vir SA op internasionale vlak. Nog nie in die geskiedenis van SA het so ‘n kroning plaasgevind nie. Selfs vir Namakwaland was dit nasionale geskiedenis.”
Sy het wel ‘n paar pryse (ongeveer, R70 000) van borge soos ‘n nuwe rolstoel, kussing, tablet en smartfoon ontvang, maar geen kontant nie.
Daarenteen het die huidige Miss SA verlede jaar pryse ter waarde van R4 milj gewen. Hiervan was R1milj. in kontant.
Volgens Avron Thomas, die distriksdirekteur van die departement sport, kuns en kultuur op Springbok, is hulle besig om ‘n program vir Bock uit te rol.
“Dit is daarop gemik om fondse in te samel. Ons is ook besig om haar in ‘n tydelike werk te plaas. Ons glo dat sy al die fondse bymekaar sal kry om te gaan deelneem.”
Haar kontaknommer is 071 3158220 indien ‘n weldoener met haar in kontak wil kom.