ISAAC CLOETE
‘n Bekende en geliefde polisiekaptein se skietdood hou vele mense aan die praat.
Veral onder die gemeenskappe van Springbok en Kleinzee gons dit vreeslik. Behalwe dit, is veral sy familie en kollegas geskok oor die skietdood van kapt Mario Brand (49). Die voorval het Saterdagaand in Okiep naby Springbok gebeur.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder, kol Mashay Gamieldien, het die voorval ongeveer kwart voor agt gebeur. Polisievoertuie en ambulanspersoneel het na die toneel gejaag.
“Die oorledene was in sy motor met ‘n skietwond in sy kop in Okiep gevind. Hierna was hy hospitaal geneem, maar het ongelukkig op pad gesterf weens die aard van sy wonde.”
Hy was vroeër vanaf Kleinzee na Springbok verplaas, waar hy onder andere by die menslike hulpbronne-afdeling was. Nog onlangs nog was hy na die rang van kaptein bevorder.
‘n Goeie vriend van Brand, Sean Nass, was verslae en stukkend oor die voorval. Volgens hom was dié kapt “a happy, great man”.
“Hy was iemand wat sy beste gegee het en aan almal goed gedoen het.”
Brand was aan Elizabeth Frylinck verloof. Sy het op WhatsApp haar hart so uitgestort: “Ai, Here tog, hoekom? Ek weet ek mag nie vra nie, maar hoe moet ek met my lewe aangaan sonder my beste maat? Mario Brand, jy was die mens met die grootste hart wat altyd vir almal alles wou doen en gee. Ek het jou so bitter lief. Ons salueer jou, kapt Brand.”
Brand het by sy suster, Marinda Brand Mostert, gebly. Volgens haar is die familie gebroke en sit ook met die waaroms. Hy was trots op sy werk en het altyd gelag, het sy vertel.
Geen vuil spel word vermoed nie. Die polisie ondersoek die voorval en ‘n geregtlike doodsondersoek is aan die gang.