Skip to main content

SONJA BROWN

*Herman Steyn, ‘n pasiënt in die General Justice Gizenga Mpanza Regional Hospital in Stanger, moes gister toekyk hoe mediese personeel plek maak in ‘n pakkamer om al die pasiënte te probeer akkomodeer.

“Ons was gister vir geen spesifieke rede nie na ‘n ander saal, wat toe al die tyd ‘n pakkamer blyk te wees, oorgeskuif. Ons was ongeveer 12 ‘lae risiko’ pasiënte wat om 23H15 ons huidige beddens moes verlaat.

“Ek het net na drie-uur vanoggend iemand se hulp probeer inroep nadat ek in erge pyn verkeer het as gevolg van ‘n galsteen. Daar was geen verpleegpersoneel in sig nie, en niemand het op my gille as gevolg van die pyn gereageer nie. Van my medepasiënte moes hulp gaan soek.

“Ja, ek was daar,” sê een van die mense, ‘n Indiër, wat rondgehol het om iemand te kry om Herman te help. “Dit het 45 minute gevat om iemand op te spoor om hom te help en ‘n rolstoel iewers te kry. Hy was toe teruggestoot na sy oorspronklike bed. Hoekom ons geskuif was, weet nugter alleen.

“Die pyn was so fel dat ek in die soeke na hulp die drup uit my arm gepluk het. En weet jy wat gee hulle my? Twee Panado’s. Twee Panado’s!

“Toe ek uiteindelik ‘n suster in die hande kon kry na nog ‘n paar ure, was sy geskok. Volgens haar moes ek morfien gekry het. Sy het dit dadelik toegedien.”

*Steyn se regte naam word weerhou uit vrees vir viktimisasie aangesien hy steeds in die hospitaal is.

Die Waarheid is in besit van ‘n video waar mediese personeel plek maak in ‘n ‘pakkamer’ vir pasiënte. Dan is daar ook nog foto’s van die pakkasies wat bloot eenkant toe geskuif is in ‘n saal wat steriel moet wees, dripsakke sonder staanders, asook gebruikte rubberhandskoene wat net op die vloer lê…

Leave a Reply

error: Content is protected !!