Skip to main content

Die omstrede dr. Tros Bekker het die eerste keer sedert hy deur die Suid-Afrikaanse Mediese Raad (Sama) van onetiese en onprofessionele gedrag aangekla is, in ‘n eksklusiewe onderhoud op bewerings teen hom gereageer.

In sy openhartige onderhoud met Die Waarheid het Bekker nie doekies omgedraai oor die aanvalle teen hom vanuit verskeie oorde nie.

“Ek weet nie wat in die toekoms met my gaan gebeur nie. Ek kan dalk my lisensie om te praktiseer verloor aangesien Sama my aankla van baie dinge. Daar is tans ‘n ondersoek aan die gang oor my uitsprake ten opsigte van Covid,” het hy gesê in reaksie daarop dat Sama hom op die vingers getik het oor sy fel kritiek teen die Covid-19-inentings.

“Ek sal nie stilgemaak word nie. Ek is al gedreig, my video’s word verwyder en ek word oral op sosiale media-platforms beledig, maar ek sal nie stilbly oor wat ek glo die grootste mediese skandaal en toesmeerdery in die geskiedenis is nie.”

Volgens ‘n berig in ‘n Sondagblad glo Sama “dr Bekker se gedrag moet ondersoek word omdat hy moontlik verskeie etiese riglyne, professionele reëls en wetlike voorskrifte en verpligtings oortree”.

Ingevolge die wet kan ’n mediese praktisyn sy lisensie verloor indien hy of sy skuldig bevind word aan onprofessionele gedrag.

“Ek gaan nie toelaat dat my integriteit en dìt waarin ek glo deur die media ondermyn word nie. Ek staan by wat ek gesê het en ek voel só sterk oor my uitsprake dat ek dit in boeke uitgegee het.”

Bekker word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Raad (Sama) gesien as ‘n voorbok onder mediese personeel wat die regering se standpunt en uitsprake oor Covid-19 en die behandeling daarvan as ‘twak’ afmaak.

In die klagtes wat deur Sama ingedien is teen Bekker, beweer Sama dat hy onverantwoordelik is en die waninligting wat hy versprei oor die behandeling van Covid-19 en inentings, geweldige uitdagings vir mediese dokters veroorsaak.

Sama meen dat Bekker volgens hulle oneties en onprofessioneel opgetree het deur die stelling wat hy maak, soos, “dat elke dokter of persoon wat die entstof toedien ’n moordenaar is.”

Sama verwys ook na ’n foto wat Bekker op sosiale media geplaas het met die opskrif “GUILTY OF GENOCIDE,” van ’n persoon in doktersklere met ’n spuitnaald in sy hand, tesame met sy selfgepubliseerde boeke.

Hulle voer ook aan dat Bekker die gebruik van Ivermektien ondersteun, wat geweldige teenkanting veroorsaak het.

In ‘n teenspraak teen Bekker se uitlatings het die Department van Gesondheid ‘n blad geskep waar hulle Bekker en ander dokters, waaronder dokter Susan Vosloo, se uitsprake as ‘waninligting’ uitwys met hul eie ‘waarheid’-stellings daarby.

En dit is hierdie uitsprake wat gesorg het dat hy in groot moeilikheid beland by die Suid-Afrikaanse Mediese Raad (Sama).

Hy ondervind ook dat die meeste aggressie teenoor hom van gevaksineerde mense af kom, as gevolg van die onsekerheid of hulle die regte besluit geneem het om gevaksineer te word.

Hy sê al sy stellings word deur wetenskaplike bewyse gestaaf.

“Ek raak oud en het my lewe lank hard gewerk. Ek het my reputasie opgebou; die goeie en die slegte.

“Ek is moeg om te luister hoe ryk sportsterre, vermaaklikheidsterre en politici van alle partye praat asof hulle opinies oor die gewone mense saakmaak. Dat hulle voorgee hulle weet hoe ek lewe en wat in my bankrekening aangaan.”

Hy vertel dat hy reeds twee jaar gelede oor die pandemie begin skryf het op sosiale media. “My eerste inskrywing oor die pandemie (wat ek ‘n epidemie noem), was êrens in Maart [2020]. My gevolgtrekking oor die virus is die volgende:

Die virus is vir duisende jare met ons.

Dat die siekte nie veel gevaarliker is as ‘n gewone griep nie.

80% van mense gaan die infeksie kry.

Slegs ‘n klein persentasie van mense, 0,003%, sal sterf.

Dis ‘n groter risiko om te verdrink as om van die virus te sterf.

Die virus veroorsaak hiperstolbaarheid van bloed en is dus nie ‘n longsiekte nie.

Bekker het reeds vier boeke gepubliseer waar hy die entstowwe se voor- en nadele bespreek.

Bekker sê hy wil graag deur sy boeke ‘n boodskap oordra wat versoening veroorsaak. Sy droom is ook om ‘n rehabilitasiesentrum op ‘n plaas te begin vir pasiënte met Covid-nagevolge.

Sy eerste boek,’n GP se ervaring tydens die Covid pandemie, het hy geskryf omdat hy sy menings in boekvorm wou druk vir sy kleinkinders, “sodat hulle darem kan sien hul oupa was nie so dom nie”.

Die inleiding in hierdie boek bevat die volgende:

Hierdie boek lees soos ‘n dagboek, en daar is inskrywings in soos ‘Ons het ‘n land vol pissies,’ of ‘Die wêreld word toegesluit vir ‘n virus so patogenies soos ‘n verkoue’ en ‘Ek dink ons weet wat is reg of verkeerd…”

Sy ander boeke, beskikbaar in Afrikaans en Engels, behandel die virus in geheel, kudde-immuniteit, samesweringsteorieë, en Suid-Afrika se Covid-geskiedenis, wat korrupsie m.b.t. die hele pandemie insluit.

En ten slotte uit Bekker se een boek: “Ek is bly dat ek in die tweede helfte van my lewe is, want ek stel nie belang om na hierdie wêreld te kyk wat hierdie mense geskep het nie…”

Bekker het die gebruik van ivermektien breedvoerig bespreek. Hy sê hy het reeds meer as 2000 covid-positiewe pasiënte suksesvol hiermee behandel.

“Dr Li Meng Yan het bevestig dat daar “gain of function” studies was, befonds deur die Obama regering en Bill Gates. Die virus se medeontwerper, dr Robert Malone, het gesê die vaksiene maak dood en die oud vise-president van Pfizer, dr Mike Yeaden, het bevestig dat vaksien-eksperimente op diere gedoen was en almal het gevrek.”

Dr Tros Bekker kan op WhatsApp gekontak word by 083 985 7422, of as hy nie beskikbaar is nie, laat ‘n boodskap by Heleen van der Merwe op 0728100456.

 

3 Comments

  • daniel says:

    Ons ondersteun mediese dokters met integriteit! Daar is te veel dokters wat hul bekke hou hieroor ter wille van geld. Ons sien julle almal, die goeies en die slegtes

  • JC Coetzee says:

    Dr Bekker is een van die min wat nie bang is om die waarheid te versprei nie, dankie daarvoor,

Leave a Reply to Sonja Cancel Reply

error: Content is protected !!