Sonnette Lombaard
Blacklight
Politieke aksieriller
Met Liam Neeson, Aidan Quinn, Emmy Raver-Lampman, Taylor John Smith.
Oud is nie koud
Die storie is so oud soos die mens se versugtinge na mag en geld met die samelewing se waghonde en goeie siele wat paraat die spoor van knoei en konkel uitsnuffel en ontbloot.
In kort, ‘n ontnugterde redder van gewonde spioensiele en skerp joernalis moet saamspan om korrupsie in top-staatsamptenary aan die pen te laat ry. Waar? In die wȇreld se politieke hoofstad Washington DC natuurlik. Al is meeste van hierdie fliek Doer Onder geskiet.
Terug in die teater is jy skaars reggeskuif in jou stoel, dan ruk die manjifieke kameraskote van DC se landmerke jou blitsig in die nes in. Die voorgeregtafel word gedek by die statige, spierwit Capitol-gebou waar ‘n mooi aktivis Sofia Flores besig om plakkaatswaaiende betogers vurig aan te hits.
Dan sny die kamera na nog ‘n oproertoneel in ‘n gehawende woonwapark elders in die hoofstad. Geheime FBI-agent Travis Block (Liam Neeson) werk vinnig en sekuur. Hy is daar om ‘n verloopte vroulike kollega wat die spoor byster geraak het, ongeskonde na veiligheid bring.
Dis wat Travis doen. ‘n Betaalde regeringsengel wat stilweg agente red wat die kluts kwytraak en/of afdwaal. Boonop op direkte bevel van sy baas en hoof van die FBI, Gabriel Robinson (Aidan Quinn), met wie hy ‘n omstrede Viètnam-verlede deel. Gabriel het Travis persoonlik gewerf vir die ondankbare en grootliks agter-die-skerms reddingstaak.
Intussen probeer joernalis Mira Jones (Emmy Ravin-Lampman) agter die kap van die byl kom oor aktivis Sofia se vinnige grudood in verdagte omstandighede. ‘n Jong FBI-agent Dusty Crane (Taylor John Smith) wil fluitjie blaas maar moet self koes want iemand is skielik warm op sy spoor.
Ervare Travis ruik tydig ‘n rot en word bewus van ‘n hoogsgeheime federale operasie wat vanuit die FBI-hoofkwartier bedryf word. Hy kom by Mira en Dusty uit – die trio wis hier is meer op die spel maar dan begin die poppe dans.
Aan die vooraand van 70 jaar, is die bekroonde Neeson geslyp deur ‘n goeie mengsel genres. Hy is g’n onbekende silwerdoekspioen nie – sy gewilde Taken-flieks het hom hierin gegiet. Die Ier se skewe en deurleefde gesig kaats ‘n doek-dearness, wat moeiteloos werk vir sy fliekkarakters.
Hier speel hy boonop ‘n oupa – een wat nog skerp sy taak verrig! Travis is ‘n komplekse man met ‘n hart en gewete. Maar so sekuur as wat hy ander gewonde siele fix, val hy tuis vas. Hy was ‘n afwesige pa en wil nader kom aan sy enigste kind, Amanda. Sy skatlike kleindogter Natalie is wel in oupa se kraal. Amanda vrees juis die appel het naby geval, want Natalie toon vroeg Travis se kompulsief-obsessiewe strepe…
Mens kan nie die rolverdeling blameer vir die gate in die eindproduk nie. Hulle doen geloofwaardig waarvoor hulle betaal is. Die draaiboek voldoen eenvoudig nie volrond aan die moontlikhede binne so snel-ontvouende storie met aktuele politieke ondertone nie. Al maak dit al die regte PC-geluide om relevant te wees soos oor geslagsgelykheid. Die klankbaan kook ook.
Regisseur/vervaardiger Mark Williams is mede-draaiboekskrywer en moet pa staan dat die belowende komplot met al die elemente nie ten volle ontplooi is nie. Na Honest Thief is dit sy tweede fliek saam met Neeson.
Genoegsame ervaring is waarskynlik die rede waarom sy eindproduk plek-plek haper. Dit vra vaardigheid om so snelontvouende spoedvraatstorie geloofwaardig en genotvol tuis te bring. Gerekende regisseurs was aan stuur met soortgelyke trefflieks met subtekste gepak met aksie en intriges rondom die DC-kryt. Soos State of Play (2009) wat jou enduit aan die raai gehou het en die donkerder maar stylvolle No Way Out (1987), wat Kevin Costner gelanseer het.
Die voorgangers het almal stewige rolverdelings gehad en dis ook sy span se spel hier wat Williams red om steeds ‘n skaflike eindproduk te lewer. Dit sal meeste rillervrate behaag. Dis ook welkom dat in ‘n rolprentera waar high-tech oorheers, hierdie outydse skop, skiet en donder besing … waar waardes nog tel en jy jou gesonde verstand moet gebruik om skurke te troef. As ‘n ode aan oud is nie koud nie, tref dit volskoots.