Koster se waterprobleme kry net nie end nie. Hierdie dorpie sit nou al 17 dae sonder ‘n druppel water.
Volgens Andreas Peens, die Koster ‘prokureur van rekords’, is dit ‘n jarelange probleem. “Die saak kom al van 2018 af toe Koster die eerste keer waterprobleme gehad het, en in 2019 het inwoners self die waterwerke bestuur.
“Desember 2020 het regter Gura ‘n bevel gegee wat ons gemagtig het om die infrastruktuur van die munisipaliteit waar te neem waar ons toe nou water- en sanitasiedienste oorgeneem het. Daarna het ons toe self die diens gelewer en die munisipaliteit het ons toe daarvoor vergoed.
“Die munisipaliteit het twee werkende wateraanlegte en twee werkende rioolaanlegte teruggekry in ongeveer Mei 2021 na ‘n hofbevel en na nege maande is dit in absolute verval. Die rioolplase staan stil, die riool loop weer in riviere in en die inwoners is nou 16 dae sonder water.”
Een inwoner, Dawie du Toit, het met sy vuurvegter vanaf 6 uur tot 9 uur in die aande water afgegee aan mense wat nie voertuie het nie. Water wat deur weldoeners geskenk is uit hul eie krane was soos manna uit die hemel.
Swanepoel Transport het ook vroeër in die week kanne afgelaai by bejaardes wat nie kon water gaan haal nie.
Afriforum het op 19 Mei 2021 só hieroor berig:
Die burgerregte-organisasie AfriForum en die Kgetlengrivier Concerned Residents (KCR) het hul skok en ontsteltenis uitgespreek nadat ‘n waarnemende regter in die Noordwes Hooggeregshof in Mahikeng beslis het dat die water- en rioolaanlegte in Koster en Swartruggens aan die Kgetlengrivier teruggegee moet word aan die Plaaslike Munisipaliteit. Boonop het die hof bevind dat Joseph Mogale, Kgetlengrivier se munisipale bestuurder, nie aan minagting van die hof skuldig is nie.
Die plante sal vandag om 12:00 aan die munisipaliteit teruggegee word.
Volgens Carel van Heerden, die voorsitter van die KCR, sal inwoners die uitspraak appelleer. “Regter F.S. Gura se dapper uitspraak in Desember om die gemeenskap die verantwoordelikheid te gee om die aanlegte self te bestuur, is deur hierdie uitspraak ongedaan gemaak,” sê Van Heerden.
Van Heerden beklemtoon dat die munisipaliteit nou in beheer geplaas gaan word van aanlegte wat soos goed-geoliede masjiene werk. “Die gemeenskap het pas gewoond geraak aan betroubare voorsiening van skoon water. Hulle is egter nou weer uitgelewer aan die munisipaliteit en Magalies Water, wat verantwoordelik is vir die uiteindelike ineenstorting van die aanlegte en die daaropvolgende waterkrisis verlede jaar,” sê Van Heerden.
Volgens Johan Kruger, die hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is gemeenskappe keelvol vir twyfelagtige hofuitsprake, swak administrasie en voortdurende korrupsie en vermorsing van belastingbetalers se geld. “Die staat het toegegee dat die Munisipale Bestuurder nie die hofbevel nagekom het nie. Ons vind die hof se uitspraak onpeilbaar. Dit stuur ’n boodskap dat munisipale beamptes ongestraf sal bly vir wanbestuur en openbare nalatigheid,” sê Kruger.
Kruger voer aan dat die tyd aangebreek het dat gemeenskappe opstaan teen ‘n plunderende regering. “Gemeenskappe sal eenvoudig spontaan begin opstaan teen munisipaliteite wat belastingbetalers se geld steel en mors tot nadeel van inwoners se basiese regte. Spontane belastingopstande is heel waarskynlik in die vooruitsig vir die regering,” voorspel Kruger.