Isaac Cloete
Familielede is boos omdat ‘n moordenaar se straf glo te lig is.
Hulle voel dat die regstelsel hulle totaal gefaal het en is ‘n gemors. Moordenaars moet in tronke vrot en nie in weelde lewe nie, was hulle mening deurgaans.
Die moordenaar, konst Caiphus Hinana, was Woensdag in die Upington se streekhof tot 18 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die wrede moord op sy eksmeisie, volgens die streekswoordvoerder van die NVG, Mojalefa Senokoatsane.
Geneveve “Nalo” Assegaai (toe 22) was in Mei, 2019 deur hom op ‘n sokkerveld in Bergsig, buitekant Springbok, wreed vermoor.
Caiphus Hinana
Volgens getuienis het die twee van ‘n kuierplek in Springbok gekom. Die paartjie het met sy Corsa-bakkie na die sokkerveld gery. Hier het hy haar eers met ‘n bofbalkolf wreed aangerand. Een het toe vertel: “Dit was so teen vieruur toe ek gesien het dat iemand ‘n dame verskeie kere met ‘n voorwerp slaan. Sy het buitekant die bakkie gelê. Hierna het die man haar ‘n ent weggesleep en oor haar gery. Hy het ‘n entjie weggery, teruggedraai en weer oor haar gery. Hierna het hy haar bebloede liggaam voor in die bakkie geforseer.”
Ooggetuies het toe vertel dat hy wou wegjaag met haar. Hy het egter teen ‘n vibracrete heining vasgery voor nabygeleë huise. Die inwoners het die polisie ontbied, waarna hy gearresteer was.
Tydens een van sy hofverskynings op Springbok het Hinana aangevoer dat hy nie veel van die voorval kon onthou nie. Hierna was hy vir sielkundige waarneming verwys. En die saak is na Upington oorgeskuif.
In die hof was die kolf ook as die moordwapen uitgewys.
Assegaai se familie was ongelukkig oor die ligte vonnis. Hulle het hartseer, maar vreesloos op sosiale media vertel dat hy net ‘n paar jaar gaan sit. Daarna sal hy op parool uitkom, terwyl hulle hul geliefde nooit weer sal sien nie.
Een van haar niggies het anoniem gesê: “Ek is nie lekker in my hart nie oor die vonnis. Dis te min. Na die helfte van die vonnis kom hy uit op parool en kom leef vry. My niggie sal nooit weer terugkom nie. Sy is vir ewig weg.”