Die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Kaptein Gerda Swart, het bevestig dat twee seuns Sondag in die Swartkopsrivier verdrink het.
‘n Groep van ses seuns uit Kariega het in die rivier gaan swem. “Die seuns het probeer om oor die rivier te swem toe twee van die kinders na bewering moeg geword het terwyl hulle in die middel van die rivier was,” het Swart gesê.
Een van die seuns het teruggedraai om die sukkelende paar oor die rivier te help, maar albei die seuns het onder die water verdwyn.
Volgens die polisie het die ander seuns na bewering eers vir volwassenes vertel wat gebeur het nadat die ouers begin vra het waar die twee vermiste kinders is.
Jerome Cowie (11) en Corné Boesak (12) se liggame is gisteroggend omstreeks 10:00 uit die rivier gehaal.
“Die polisie doen ‘n beroep op ouers om te verseker dat daar ten alle tye volwasse toesig is wanneer kinders na riviere toe gaan om te swem.”