‘n Evolusionêre deurbraak in menswees en leef maak opslae nadat bevind is die brein skakel ten tye van dood oor na ‘n sagter rat, skryf Sonnette Lombaard
Die moderne mens se snelle ontsyfering van die magtigste orgaan, die brein, het ‘n reuse-hupstoot gekry nadat Amerikaanse navorsers geskiedenis gemaak het deur eerste te wees om breingolwe in die sterwensproses op te neem.
Die opname dui daarop dat breinaktiwiteite voortduur selfs na onmiddellike afsterwe en dat dit met droom en geheueherwinning verbind word. Kenners meen evolusionêre ontwikkeling is die rede waarom die brein ons in die groetproses beskerm en dit versag deur ‘n mooi fliek oor ons eie lewe vir ons te wys.
Die nuutste bevindinge bied ‘n glimps van wat ‘n mens in die laaste minute van leef ervaar. Dis ‘n draaipunt omdat die mediese wetenskap lank gefokus het om lewe in stand te hou en nou lig werp op die ander gegewe daarvan, naamlik dood.
Barry Viljoen, ‘n kliniese sielkundige van Johannesburg wat in neurosielkunde spesialiseer, bevestig dit bewys wat lankal vermoed is. “In die mediese wetenskap is die uitdrukking ‘my hele lewe het verby my geflits’ tydens nabye doodervarings welbekend.”
Viljoen en kollegas in die neurologieveld verwelkom vinnige vooruitgang in die ontsyfering van die enigmatiese brein. “Die toenemende fokus op veral neuroplastisiteit, oftewel die brein se vermoë om te herstel, aan te pas en nou ook te beskerm, baat die mensdom op ‘n breë front, soos hierdie ontdekking opnuut bewys.”
Die aanlynwebwerf https://newatlas.com wat nuwe tegnologie en wetenskaplike nuus belig, het oor die deurbraak berig. Die navorsingspan wat die sterwende brein vasgevang het, het toevallig ontdek dat breingolfpatrone hiertydens ooreenkom met breinaktiwiteite betrokke by droom en geheueherwinning.
Die studie se doel was nie om breinaktiwiteit in die sterwensproses te meet nie. Die navorsers het ‘n EKG-masjien gebruik om ‘n 87-jarige epilepsiepasiënt se breingolwe deurlopend vir aanvalle te monitor.
Die pasiënt het egter daartydens aan ‘n hartaanval gesterf. Sodoende is breinaktiwiteite van 15 minute rondom sterfte gemeet. Die span het daarna ingezoem op die 30 sekondes voor en direk nadat die hart gestop het. Verhoogde aktiwiteit in breingolwe bekend as gamma ossillasies is opgemerk. Die golwe is betrokke in droom, meditasie en geheueherwinning.
Soortgelyke gammagolwe is reeds vroeër by rotsterftes gevind. Volgens dr. Ajmal Zemmar, die studieleier, bewys dit dat die brein, net voor dood, vir oulaas momente van ‘n sterwende mens se lewe oproep. “Nes mense met nabye doodervarings dikwels van getuig.”
Die waarneming dat die brein in staat is tot aktiwiteitkoördinering, selfs nadat bloedvloei daardeur gestop het, het wyer implikasies. “Die bevindinge daag ons begrip uit van wanneer lewe werklik eindig. Tyd daarbinne is ook breër belangrik met bv. orgaanskenking,” aldus Zemmar.
Die bevindinge is egter uit een studie verkry en van ‘n pasiënt wat weens epilepsie ongewone breinaktiwiteite beleef het. Die span wil die navorsing wyer voort te sit. “Wat ons hieruit leer, is die troos dat al is ons geliefdes se oë gesluit wanneer hulle groet, kan hul breine nog van die mooiste oomblikke in hulle lewens herroep en vir oulaas voor hulle afspeel,” het Zemmar verduidelik.
Viljoen stem hierdie deurbraak bring unieke nuwe kennis en ook mensvertroosting. Dit bewys die brein is inderdaad slim genoeg om dit self te beskerm en die sterwensproses te versag.
“Ondanks vooruitgang is dood ‘n misterie met donkerder ondertone. Soos geboorte, is dood noodsaaklike deurgange van menswees. Wyl eersgenoemde gewoonlik vreugdevol is, is doodgaan meestal traumaties, vir die sterwende mens, asook geliefdes en/of omstanders.”
Selfs met terminale pasiënte wat voorbereid is, bly dit ‘n lydingsweg, benadruk Viljoen. “Swaarder asemhaal en afskakeling van organe en funksies is traumatiese prosesse vir enigeen en dood bly ‘n hartseer-gebeurtenis in ons belewing van menswees.”
Viljoen meen die bevindinge bring baie nuwe vrae soos of die staat van droom wat die brein teen die einde oprakel, ‘n evolusionêre meganisme ter selfbeskerming is … om doodgaan meer menslik en verteerbaar vir menswees te maak.
Soortgelyke beskermingsmeganismes word gesien met spinale – of rugmurgbeserings waar die pasient se liggaam vanself in spinale skok gaan en sensasie “verloor” ter beskerming.
As ‘n biologiese bevinding steun die bevindinge ook die sg. “ouvroustories” wat lankal ‘n draagliker einde verkondig. “Die era om gravitas aan omgangstaal in die mediese wetenskap te gee, is hier,” beaam Viljoen.
Die deurbraak het tyd gevat omdat die mens stelselmatig wyser word soos dieper gedelf word om die liggaam en leef se geheime te ontrafel. Die bevindinge is juis kern omdat dit lig werp op hoër en ingewikkelder beheerfunksies in die brein, wat uniek aan die mensspesie is.
“Blote dood geskied op ‘n sellulêre vlak. Die studie bevestig dat menswees meer as ‘n bondel meganismes is. Die etiek daaragter draai om emosies en gevoelens.” In ‘n millennium waar genadedood sterk figureer, stu dit vooruitgang om die waardigheid van menswees enduit te beskerm, voeg Viljoen by.
Hy is oortuig Suid-Afrikaanse navorsers sal die bevindinge verder plaaslik begerig ondersoek. “Ons het agterstande met toerusting en gebrek aan voldoende befondsing, maar die wil en vermoë is nog altyd daar om die wêreld met ons mediese kundigheid te verras.”