Na berigte is minstens 60 mense dood, waaronder vroue en kinders, en vele meer beseer in ‘n ontploffing by ‘n informele goudmynterrein in Burkina Faso.
Die ontploffing het in die dorpie Gbomblora by ‘n goudmynterrein plaasgevind en is vermoedelik veroorsaak deur dinamiet wat daar gestoor is, wat aan die brand geslaan het.
“Daar was liggame oral gestrooi. Dit was ‘n ontploffing wat bome ontwortel en huise platgevee het,” het ‘n bron aan Reuters gesê.
Hordes beseerdes is na die naaste hospitaal geneem.
Burkina Faso, een van die minste ontwikkelde lande in die wêreld, is tans die vyfde grootste goudprodusent in Afrika. Goud is dié land se belangrikste uitvoerproduk. In 2019 het die bedryf ongeveer 1,5 miljoen mense in diens gehad en sowat VS$2 miljard se inkomste gegenereer.
Informele myners smokkel hul goud oor grense na Ghana, Niger, Benin en Togo en handel onwettig met hierdie edelmetaal.
Burkina Faso is tans deurtrek met militante groepe wat met Al-Kaïda verbind word. Hierdie militante groepe soek beheer oor mynterreine as ‘n manier om hul gewelddadige aanvalle te finansier.