Skip to main content

VIRGINIA KEPPLER

‘n Johannesburgse vrou is in trane nadat die fotograwe wat sy gehuur het om haar troue af te neem, haar vyf maande na die groot dag “’n klomp lelike foto’s van uiterste swak gehalte gegee het.”

‘n Erg omgekrapte Meredith Matekane (33) sê daar is nie een foto wat sy kan raam en op haar muur hang of in ‘n trou-album plaas nie. Sy het nou na vyf maande Van Graan Fotografie gedagvaar vir kontrakbreuk.

Meredith is op 30 September 2021 met Khotso Matekane (32) getroud. Hulle was vreeslik opgewonde en het uitgesien om ná die tyd na hul troufotos’ te kyk. Die paartjie het R8 000 voor die troue aan Van Graan Fotografie betaal en ‘n hooffotograaf en haar assistent sou die troue afneem op dié dag.

Maar drie maande later, toe die paartije die foto’s moes ontvang, was daar volgens hulle geen woord of tyding van die fotograwe nie. “Volgens ons kontrak moet ons ‘n A4 fotoboek, twee A4 Canvasfotos, 300 verbeterde foto’s en ‘n drie minute video van die troue teen einde Desember ontvang.  Eers na vyf maande en na talle e-posse, WhatsApp boodskappe en oproepe het Natasha Van Graan gereageer en die skokkende, aaklige foto’s oorhandig. Dit was glad nie soos ooreengekom in die ‘pakket’ nie,”  vertel Meredith.

Meredith sê op die dag van die troue was die fotograwe onvriendelik en baie haastig. “Daar is foto’s waarvoor die bruidgevolg poseer het; maar nou is daar niks sprake daarvan nie.” Sy beskuldig Natasha daarvan dat sy onsimpatiek is. “Tot nou toe het sy net verskoning gevra omdat sy so lank geneem het om te reageer op my boodskappe en oproepe en toe blameer sy die assistant vir die swak foto’s, maar sy self het ook foto’s geneem en moet verantwoordelikheid hiervoor neem,” sê Meredith.

In ‘n e-pos aan Die Waarheid, het Natasha gesê Meredith het haar nou gedagvaar om in die hof te verskyn. “Jy kan die hofsaak bywoon om die volle storie te kry,” lui die boodskap.

Sy het verder gesê sy sal die enkele e-pos waarin Die Waarheid haar genader het vir haar kant van die storie en kommentaar, by haar lêer voeg as bewyse van die “volgehoue geboelie en teistering”.

Meredith sê sy voel asof hulle oop-oë op hul mooiste dag “beroof” is. “Ek kry aangsaanvalle want die troue is verby en waar kry ek nou mooi foto’s? Ek soek my geld terug want niks kan opmaak vir die feit dat ek nie een ordentlike foto van my troudag het nie,” sê ‘n ongelukkige Meredith.

Leave a Reply

error: Content is protected !!