Skip to main content

SONJA BROWN

‘n Graad ses ouer is ontstoke nadat sy geen hond haaraf kan maak omtrent beweerde rassisme by Forest Heights Primêre Skool in Eersterivier nie.

Bruin Afrikaanssprekende leerlinge in dié skool ontvang alle werk in Engels, en die kinders of die ouers moet dit eers self na Afrikaans vertaal voordat die kinders die werk kan doen.

Daar is glo ook rassesegregasie met betrekking tot die hekke waar leerders na skool verdaag.

“Swart kinders mag by die netjiese, stil voorhek uitgaan, maar ons kinders moet aan die agterkant van die skool uitgaan waar tikkoppe dag en nag ronddwaal. Daar is ‘n dwelmhuis binne klipgooi van die skool se agterhek af,” vertel ‘n ouer.

Die agterhek waar die bruin kinders uitloop, lei na ‘n dwelmnes.

“Die skool se verskoning is dat die kinders wat taxi ry aan die voorkant uitkom, en voetganger-leerlinge moet die agterste hek gebruik. Dis mos nie reg nie!

Die voorste hek lei na ‘n heelwat veiliger gebied.

“Daardie skool is ‘n probleem. Alles word onder die mat ingevee.

“My man het laasjaar ‘n onderwyser gebel oor boeliegedrag wat op my kind toegepas was. Die onnie het net die foon in my man se oor doodgedruk toe my man wou weet hoekom die man so hardhandig is met leerlinge.

“My kind het ook daar kopbeserings opgedoen nadat ‘n prefek hom gedurende ‘n pouse met ‘n klip gegooi het. Ek moes self die mediese kostes vir sy steke betaal en die prefek het niks oorgekom nie.

“My kind is nou in graad ses. In graad vyf was hy so erg deur ‘n juffrou geboelie dat hy bang was om skool toe te gaan.

“ ’n Juffrou het ook die foon in my man se oor doodgedruk toe hy wou weet hoekom swart voetgangers ook by die voorhek uitloop, maar ons kinders moet ‘n tikkop-veld aandurf.

“Ek het verlede jaar die onderwysdepartment genader met die probleem, maar tot dusver geen feedback hieroor gekry nie.”

Verlede week het ‘n vriendin van die ouer wat hier kla se graad twee kind vir ‘n rukkie spoorloos verdwyn. Dìt nadat die kind, wat ‘n saamrygeleentheid huis toe kry, saam met die ander voetgangers by die agterste hek moes uitloop.  Die drywer het die ma gebel om haar in te lig dat hy haar kind nêrens kon opspoor nie. Die ma het die skool gebel, en volgens die kind se klasonderwyseres het sy nie geweet dat die kind met vervoer huis toe gaan nie.

“Die skoolhoof is kastig bekommerd oor die kinders se veiligheid, maar dinge in die omgewing raak erger met die dwelmhuis, so hoe bring jy die twee bymekaar? Terwyl ek agter die skool by die tikkoppe se veld gewag het vir my kind, het ‘n man net daar in die oopte dwelms gesmous.”

Die Waarheid het die skoolhoof, ‘n Mevrou Bosman, asook die onderhoof, ‘n Mev. Hendricks, genader vir kommentaar maar teen spertyd het hulle nog nie gereageer nie.

Die ouers wil naamloos bly uit vrees vir viktimisering deur die leerkragte, besoekers aan die dwelmhuis en die skollies wat in die veld uithang.

Leave a Reply

error: Content is protected !!