Skip to main content

Die OR Tambo-distriksmunisipaliteit se Ngqeleni-waterprojek in die landelike Oos-Kaap is deurtrek met mislukkings. Die Waterinstallasieprojek van R14 miljoen was bedoel om huishoudings in Ngqeleni van vars water te voorsien.

Die uitkoms van die projek is gebrekkig, met verskeie dorpe wat steeds nie water het nie. Die munisipaliteit versuim ook om die ou stelsels wat reeds lankal geïmplementeer is, in stand te hou en te herstel. Dorpsbewoners drink onbehandelde water uit natuurlike bronne, en skole moet water koop met fondse wat vir onderrig bedoel is, skryf Mkhuseli Sizani vir GroundUp.

Duisende huishoudings in wyk 25 in Ngqeleni, ‘n dorp sowat 35 km van Mthatha, drink onbehandelde water uit fonteine en riviere wat met diere gedeel word. Dit, volgens ‘n plaaslike hoof, is ondanks ‘n waterinstallasieprojek van R14 miljoen deur OR Tambo Distriksmunisipaliteit.

Gefrustreerde dorpenaars blameer Simphiwe Magungxu, ‘n munisipale wateroperateur en loodgieter vir die gebied. Hy blameer weer die munisipaliteit.

Volgens Magungxu het die projek in 2005 begin en was dit bedoel om kraanwater aan meer as 20 000 huishoudings in Lwandile, Ngojini, Mamolweni en Mngcibe dorpe te verskaf. “Maar toe die projek voltooi is, was die waterdruk te laag en die kragopwekkers te swak om water na die hoërliggende dorpies te pomp.

“Daar is ook ‘n gebrek aan instandhouding en herstelwerk. In Lwandile is ‘n druktenk sedert November verlede jaar buite werking. In Mngcibe is ’n waterpyp sedert Junie 2021 stukkend en die distrik sê dit sukkel om die regte grootte pyp te kry,” sê Magungxu.

Magungxu sê dinge het so erg geraak dat hy nie meer gemeenskapsvergaderings by die koningshuis bywoon nie. Hy sê beledigings word na hom geslinger en hy word daarvan beskuldig dat hy nutteloos is. “Ek sê altyd vir hulle dat ek net ‘n werker is.”

Magungxu sê hy stuur verslae aan die distrik, maar daar is altyd vertragings met die aankoop van krane en pype om die lekkasies reg te maak.

Abenathi Msindo, van Mamolweni-dorpie, sê: “Hierdie projek was van die begin af ‘n ramp. Ons het net twee waterkrane vir sowat 250 huishoudings ontvang. Daar was ernstige konfrontasies tussen dorpenaars in die lang toue by hierdie krane.

“Ná ‘n jaar het ons krane opgedroog en ons het ons probleem by die koningshuis aangemeld. Maar ons het steeds geen water nie,” sê sy.

Leave a Reply

error: Content is protected !!