Skip to main content

Koperstraat, deesdae speelplek van die bendes.

ISAAC CLOETE

Grootskaalse bendegeweld is nou hoofnuus op ‘n plattelandse dorp.

So praat gefrustreerde, maar moedelose inwoners, van veral Koperstraat in Steinkopf, ‘n dorp in Namakwaland.

Hulle  vrees ook dat hulle ook geteiken gaan word as die bendes uitvind dat hulle die media te woord gestaan het. Dus sluit hulle maar hulle deure saans en WhatsApp eerder mekaar, word vertel.

Volgens Gerold Engelbrecht, die voorsitter van die gemeenskapsorganisasie Top5, baklei die twee groepe elke naweek, veral saans, maar ook helder oordag.

Hy vertel: “Die bakleiery het glo begin tussen ‘n smokkelaar en sy vorige handlanger (butler). Blykbaar het die smokkelaar die handlanger se meisie afgevry.

Die handlanger kon dit glo nie hanteer nie en toe word die panga’s en petrolbomme uitgepluk. Verder het die klippe op verskeie huise se dakke en deur ruite begin reën.

Beide die smokkelaar en handlanger het intussen kwajongens gewerf om teen mekaar te veg. Die bakleiery het selfs na die leerlinge by die plaaslike hoërskool versprei. Die openbare orde polisie (POP’s) op Springbok moet nou gereeld 50km na Steinkopf reis om die polisie hier te ondersteun, word vertel.

‘n Moerige vrou (51) het vertel hier is goeie polisielede en ook vrot appels. Maar dit word al moeiliker, veral vir enkelvroue, om hulleself te verdedig.

Volgens haar maak sommige polisielede maats met die skollie-elemente en drink saam met hulle. En as mense gaan kla vertel die polisielede boonop aan die misdadigers wie die klaers was.

Ander inwoners het vertel dat die polisie oorwerk en te min in getalle is. Meestal is hulle slegs twee of drie op ‘n skof. Die twee strydende bendes is glo soms elk tot 30 man sterk en te veel vir die polisie.

Intussen het Antie Poppietjie Cloete*, bekommerd vertel dat sy tussen die gemors bly. Sy voel lus om haar huis op te tel en op ‘n ander plek te gaan plaas. Volgens haar sal die polisie met arrestasies moet begin, sodat die bendes “lam” gemaak kan word. Sy is net dankbaar dat daar nog nie lewensverliese was nie.

‘n Ingeligte by een van die skole het anoniem vertel dat hulle interdikte teen die bendes moes kry. By die hoërskool is dit egter nou redelik kalm en die situasie half onder beheer, het hy bygevoeg.

Volgens kapt Jacobus Patrick Frans, die stasiebevelvoerder hier,  probeer hulle nog agter die kap van die byl kom. Hy hoop intussen dat die GPF ook sal help sodat daar met die strydende groepe gepraat kan word.

Hy het gesê: “Die POPs-eenheid van Springbok kom ondersteun ons gereeld, veral oor naweke. Maar geen partye wou al sake kom maak nie.”

Skuilnaam*

Leave a Reply

error: Content is protected !!