Enoch Godongwana, die minister van finansies, sal vandag in sy begrotingsrede die toekoms van voorkeuraankope, wat daarop gemik is om ondernemings in swart besit ‘n voorsprong te gee om staatskontrakte te kry, duideliker maak.
Dit na ‘n rits negatiewe uitsprake téén die minister, wat sekere regulasies ingevolge die wet tersyde gestel het. Die laaste uitspraak, vanuit die konstitusionele hof verlede week, het beslis dat die minister sy bevoegdhede oorskry het om regulasies ten opsigte van tenders te maak wat die uitsluiting van besighede wat nie in swart besit is nie, moontlik te maak. Die sake is deur die groep Sakeliga aanhangig gemaak.
Godongwana sal na verwagting ‘n heeltemal nuwe Wet op Openbare Voorkeur-Aankoopraamwerk ter tafel lê, ‘n onderneming wat ‘n tyd gelede deur vorige ministers van finansies begin is.