Gedurende die maand van Januarie is 637 noodlottige ongelukke aangeteken. Dit het gelei tot 774 sterftes.
“Dit verteenwoordig ‘n toename in ongelukke vanaf 484 en toename in sterftes vanaf 602, jaar-tot-jaar. Van hierdie ongelukke en sterftes is 184 ongelukke, wat in Januarie tot 363 sterftes gelei het, reeds in die feesseisoenstatistieke aangemeld,” het Fikile Mbalula, die minister van vervoer, Maandag gesê.
Met die bekendmaking van die eerste van die 2022 Maandelikse Padstatistieke in Johannesburg, het die minister gesê die meeste van die ongelukke het op Saterdae, Sondae en Maandae plaasgevind met menslike gedrag wat bygedra het tot 90% van die ongelukke, gevolg deur pad- en omgewingsfaktore se 5% en voertuigfaktore op 4%.
Voetgangers was verantwoordelik vir die hoogste aantal sterftes teen 39%, gevolg deur passasiers met 28%, bestuurders 26% en fietsryers met 7%.
Alle provinsies, behalwe KwaZulu-Natal en die Vrystaat, het in Januarie jaar-op-jaar toenames in padsterftes aangeteken.
Die uiteensetting is soos volg: Gauteng het 138 sterftes aangeteken vergeleke met 101 die vorige jaar; Limpopo het 123 sterftes aangeteken vergeleke met 72 die vorige jaar en Wes-Kaap het 121 sterftes aangeteken vergeleke met 82 die vorige jaar.
Die Oos-Kaap het 108 sterftes aangeteken vergeleke met 71 die vorige jaar terwyl Mpumalanga 79 sterftes aangeteken het vergeleke met 63 die vorige jaar, Noordwes het 64 sterftes aangeteken vergeleke met 51 die vorige jaar en Noord-Kaap het 20 sterftes aangeteken vergeleke met 11 die vorige jaar.
Die Vrystaat het 37 sterftes aangeteken vergeleke met 54 die vorige jaar en KwaZulu-Natal het 84 sterftes aangeteken vergeleke met 97 die vorige jaar.
“Gedurende Januarie 2022 is 1 672 padblokkades gehou, met 741 027 voertuie wat gestop en nagegaan is. Altesaam 173 686 verkeersboetes is uitgereik en 4 846 bestuurders is vir verskeie oortredings in hegtenis geneem.
“Opmerklike oortredings waarvoor hierdie verkeersboetes in die maand uitgereik is, sluit in bestuur bo spoedgrense, die bestuur van ongelisensieerde voertuie, bestuur sonder rybewyse, oortredings van verkeerstekens, en die bestuur van voertuie met verslete bande,” het die minister gesê.
Dronkbestuur bly ‘n uitdaging met 961 bestuurders wat hiervoor in hegtenis geneem is.
Altesaam 1 051 bestuurders is gearresteer vir die bestuur van openbare vervoer-voertuie sonder die nodige bedryfslisensies en 212 is gearresteer vir die oorlading van passasiers.
In ‘n poging om die bloedbad op Suid-Afrikaanse paaie te verminder, sal die regering voortgaan om met alle belanghebbendes saam te werk om dapper en innoverende oplossings te implementeer om paaie veiliger te maak.